Preek met Skrifgedeelte Markus 13 – 24-31 en teksvers 26
Tema: Jesus kom weer, vol heerlikheid en krag!
Geliefde broeders, susters en kinders.
Dink ons ooit aan Jesus se wederkoms? Sien ons daarna uit, daardie grootse dag? Ja ons bely elke Sondag hier in die erediens in die twaalf artikels met die blik op die toekoms die woorde oor Christus – dat Hy sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader, waarvandaan Hy sal kom om die lewendes en die dooies te oordeel.
In die gedeelte van Jesus se profetiese rede wat ons vandag oordink, veral ons teksvers , praat Hy oor sy wederkoms en dan is dit baie duidelik – Hy kom weer, vol heerlikheid en krag.
Hy kom weer, want Hy het al na hierdie wêreld toe gekom. En sy eerste koms in die wêreld en sy wederkoms vorm `n skrille kontras wat ons graag kortliks wil uitlig. Sy eerste koms was amper onsigbaar vir die mensdom gewees. Hy is sommer daar in die velde rondom Bethlehem gebore en na sy geboorte is Hy in `n krip neergelê. Tydens sy geboorte was net sy ouers daar by Hom. Eers later is sy geboorte verder aangekondig en het die sterrekykers uit die ooste aan Hom gaan hulde betoon.
Sy wederkoms sal so totaal anders wees. Hy sal nie erens kom kom waar feitlik niemand dit sien nie. Nee, sy wederkoms sal volgens Matt 24 : 27 wees soos `n weerligstraal wat in die ooste uitslaan en die hele lugruim tot in die weste verlig. Hy sê mos in ons teksvers: Dan sal die mense die Seun van die mens in die wolke sien kom met groot krag en majesteit.
Op hierdie punt is dit interessant om te vermeld dat dit net Jesus self is wat na Hom in die vier evangelies verwys as die Seun van die mens. Meer as 80 keer. Net Hy praat so oor Homself. Geen dissipel of gelowige volgeling het Jesus ooit met hierdie titel aangespreek of so oor Hom getuig nie. Die mense sal Hom sien, sê Jesus. Hy , die Seun van die mens. Ja, alle mense sal Hom sien met sy wederkoms! Openb. 1:7 stel dit so duidelik in die woorde – Kyk, Hy kom met die wolke , en al die mense sal Homsien.
Geheime verskyning was volgens Jesus juis `n teken van die vals Christusse wat in die toekoms sou kom en sê dat hulle die Christus is. Hulle sou iewers in die geheim verskyn het en dan sou mense oor hulle sê, – Kyk, hier is die Christus , of Kyk, daar is Hy. Jesus sê moenie hulle glo nie.
Wanneer Hy kom sal die mense hom sien en Hy sal in krag en heerlikheid verskyn. Dis die hoogtepunt van die eindgebeure en van sy profetiese rede waar Hy daar teen die hang van die Olyfberg buite Jerusalem gesit het saam met sy dissipels met `n uitsig oor die pragtige tempelterrein . Tydens sy eerste koms het Hy as swakke klein mens, as baba in hierdie wêreld ingekom. Tydens sy tweede koms verskyn Hy op die wolke vol krag . Vol , met ander woorde – baie, groot, ontsettende , sterk krag sal Hy hê . So anders as die swakke baba in `n krip daar in die velde van Bethlehem.
En Hy sal verder kom met heerlikheid. Hierdie heerlikheid dui op helderheid, skittering, grootsheid, Goddelike en koninklike glans , glorie, majesteit en verhewendheid wat uit Hom straal. Verhoogde heerlikheid so anders as sy nederige eerste koms as baba buite Bethlehem omdat daar nie eers vir sy ouers plek in `n herberg was nie.
En profesieë uit die verre verlede sal in vervulling gaan. Spesifiek die in Daniël 7: 13,14 waar Daniël oor iemand soos die Seun van `n mens geprofeteer het.
Iets van hierdie heerlikheid wat in volmaaktheid uit Hom straal met sy wederkoms, het tydens sy aardse lewe ook soms na vore gekom. Ons dink spesifiek aan daardie geleentheid op die berg van verheerliking wat vir ons beskryf word in Matt. 17, Markus 9 en Lukas 9. Jesus het vir Petrus, Johannes en Jakobus saam met Hom op `n hoë berg geneem en volgens Matt. 17: 2 het sy voorkoms voor hulle oë verander : sy gesig het begin straal soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig. En sy Vader het uit `n wolk gepraat en gesê : Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug, luister na Hom.
Hierdie heerlikhied was soos `n voorsmaak, `n profesie van sy volmaakte heerlikheid wanneer Hy weer op die wolke verskyn met sy wederkoms as Seun van die mens. En sy koms op die wolke van die hemel sal saamgaan met geweldige gebeure in die hemelruim en die kosmiese wêreld. Dit word deur Jesus in die voorafgaande vers soos volg beskryf: Maar in daardie tyd, na daardie verdrukking, sal die son verduister word en die maan sal nie skyn nie; die sterre sal uit die ruimte val en die kragte van die hemelruim sal ontwrig word.
Dis nie dat hierdie geweldige gebeure in die hemelruim en sterrewêreld lank voor die wederkoms sal plaasvind nie. Dan sal almal wat dit sien hulle waarskynlik bekeer. Dan sal die mensdom mos voor die tyd weet wanneer die wederkoms gaan plaasvind en Jesus maak dit dikwels bekend dat daardie dag onverwags sal kom. Nee, hierdie gebeure in die hemelruim val saam met sy koms in heerlikheid en krag en is een groot gebeurtenis. Dis een groot beweging wanneer alles nuut gaan word. Wanneer hy kom met heerlikheid en krag sal hierdie grootse gebeure in die hemelruim plaasvind.
Wanneer Hy , die Son van geregtigheid verskyn, sal die ander sonnetjies nie duister word. As Hy die ware en ewige lig ,verskyn, sal die geskape ligte soos die son en maan en sterre nie verdonker nie. Wanneer Hy , die blink môrester, verskyn, sal die sterre van die hemelruim nie uit die hemel val nie.
Maar die geweldige gebeure van son, maan en sterre is ook `n aanduiding van wat Hy gaan doen met sy wederkoms. Hy kom om onder meer oor almal te oordeel. Die dag van God se oordeel word in die Ou Testament dikwels met hierdie taal beskryf. Wanneer dinge in die hemelruim totaal gaan verander. Ons noem net die voorbeeld van Jesaja 13:9-11: Die dag van die Here het nou gekom, dit is `n wrede dag, `n dag van gramskap en gloeiende toorn, `n dag waarop die land verwoes en sy sondaars uitgeroei word. Die sterre en die sterrebeelde sal nie meer lig gee nie, die son sal al donker wees wanneer hy opkom, die maan sal ophou lig gee. Ek sal die land straf vir sy boosheid, die goddeloses vir hulle sonde. Ek sal `n einde maak aan die hoogmoed van die vermeteles, Ek sal die wat hoogmoedig en verwaand is, verneder.
Ja , hierdie geweldige kosmiese gebeure gaan finaal in vervulling wanneer die Seun van die mens weer verskyn as Koning en as regter met sy wederkoms, om te oordeel oor alle mense en skeiding te maak tussen sy skape en die bokke.
En het ons vergeet toe ons al iets hiervan gehoor het net drie dae na sy woorde in ons teksverse. Toe Hy daar gehang het aan die kruis, verworpe deur sy eie mense om te hang aan die houtpaal tot Hy sterwe…. Toe Hy daar deur die oordeel van God en sy toorn getref is vanweë die sondes van die mens. Het ons vergeet wat daar gebeur het in die skepping? Vir drie uur het dit duisternis geword op aarde, in die middel van die dag. En daarna het Jesus uitgeroep – My God, my God, waarom het U My verlaat. Dit die straf van die hel, Godverlatenheid, wat afgeteken is deur die duisternis rondom Hom.
Terug by ons Skrifgedeelte. Wanneer Hy as magtige en verheerlikte koning kom op die wolke van die hemel, gee Hy bevele. Hy beveel en stuur sy engele uit met `n geweldige opdrag. Hulle moet sy uitverkorenes gaan bymekaarbring uit die vier windstreke, van die een kant van die aarde tot by die ander kant.
Sy uitverkorene kinders is hulle wat die Vader uitverkies het en na Hom getrek het. Sy uitverkorenes is hulle wat Hom liefgehad en gedien het tydens hulle lewens op aarde. Sy uitverkorenes is hulle wat tot die einde toe volhard het in `n ware geloof in Hom, `n geloof wat vrugte van gehoorsaamheid en bekering gedra het. Sy uitverkorenes sal juig en bly wees oor daardie oomblik van sy wederkoms. Hulle sal vol vreugde wees, Hom met blydskap inwag. Hulle het immers gesmag na sy wederkoms en hulle daarvoor voorberei.
En die ander mense. Hulle wat nie deur sy engele versamel word nie. Hulle wat agterbly. Vir hulle sal sy wederkoms `n dag wees van ongelooflike vrees, bangheid, droefheid en selfverwyt. Hulle wat Hom in ongeloof verwerp het, Hom selfs gehaat en verguis het, hulle wat sy volgelinge vervolg en gedood het. Hulle wat hulle aan God en sy Woord nie gesteur het nie. Hulle sal verbyster word met angs wanneer hulle die Seun van die mens sien verskyn in krag en heerlikheid, om te oordeel oor die wat lewe en die wat reeds gesterf het. Angs, spanning, vrees en verslaentheid sal die goddeloses en ongelowiges beetpak.
Maar ons is nog nie daar nie. Die son skyn nog, die maan weerkaats sy lig in die nag. Die sterre flikker in die aand. Dis nog genadetyd, tyd vir bekering, tyd vir geloof en vir geestelike groei. Dis nog tyd vir ons as gelowiges om uit te gaan en te getuig van Christus en sy blye evangelie van verlossing.
Dis nog tyd om elke dag wat aan ons gegee word die tyd uit te koop, dit ten beste te benut. Tyd om ons roeping uit te leef, voluit te doen wat God van ons vra, sy lig te laat skyn deur ons goeie vrugte en goeie dade van gehoorsaamheid en ons woorde. Tyd om die beste gebruik te maak van elke geleentheid. Dis tyd om te bid soos die kerk deur die eeue heen gebid het – Kom Here Jesus, kom gou!
En as U nou vanoggend dink oor die wederkoms van Jesus in koninklike heerlikheid en majesteit en krag op die wolke van die hemel. Is jy of ek bly daaroor of bang daarvoor? As ons sou sê – ja, ek vrees daardie dag. Dan wys dit , iets is fout. Ons is nie nou gereed nie. Ons harte en lewens gee nie vir ons vrede nie. Daar is fout met my geloofsverhouding met my God en Verlosser . As jy bang is vir sy wederkoms, bid daaroor. Vra dat God deur sy Heilige Gees jou sal lei sodat jy weet waaraan jy moet aandag gee in jou hart en jou lewe. En luister na die roepstem van die Gees van die waarheid in jou hart en lewe. Bekeer jou voor dit te laat is. Dan sal jy gereed word en sonder vrees uitsien met blydskap na die heerlike dag van die wederkoms van die Seun van die mens op die wolke van die hemel met krag en met heerlikheid. Die dag waarna niks ooit meer dieselfde sal wees nie. Amen.