Woensdag 16 September 2026.
Vooraf:
Ons herinner al ons lidmate aan ons nagmaalsviering eerskomende Sondag. Ook aan die bring en braai geleentheid vanaf 12h00 by die kerksaal.
Ons dink ook aan Kobus en Magda Nel waar hulle kleindogter van 4 maande oud in die hospitaal opgeneem is met longprobleme. Laat ons ook vir haar voorbidding doen.
Ons oordink steeds gedeeltes van psalm 119 en wel verse 99-113 met as kernvers vers 105 : U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad.
Dit het sekerlik al met ons almal in ons lewens gebeur. Jy loop in `n donker plek of kamer weens `n kragonderbreking en omdat jy nie mooi kan sien nie; stamp jy jou iewers teen `n meubelstuk. En skielik gaan die krag aan en jy kan weer mooi en duidelik sien waar jy moet loop.
Van nature is ons maar soos mense wat in die duisternis rondtas. Maar in hierdie duisternis is die woord van die Here vir ons soos `n helder lamp of lig wat ons lewenspaaie kom verlig en vir ons sê wat God van ons in ons lewens verwag. Duidelik soos `n helder lig wys die Here in sy Woord vir ons die regte paaie aan. Wat ons behoort te dink, te glo , te sê en te doen.
Juis omdat die Here se Woord so `n helder lig is vir ons lewenspaaie behoort ons op bepaalde maniere daarop te reageer. In navolging van die digter van psalm 119 behoort ons vol vreugde en vol blydskap te wees oor die Woord van die Here en die opdragte van die Here wat ons daarin vind. Keer op keer praat die digter van psalm 119 van sy vreugde oor die Here se woord en sy opdragte. So sê hy in vers 111: U verordeninge maak ek altyd my eie, want hulle is vir my `n vreugde.
Omdat die Here se woord en opdragte vir hom soos `n lig is en hom met vreugde vul, is hy ook baie lief daarvoor. Telkens in hierdie psalm praat die digter ook van sy liefde vir die wet of woord of opdragte van die Here.
Mag die digter van psalm 119 se opgewondenheid oor die Here se woord en sy opdragte ook vir ons opnuut vanoggend inspireer. Kom ons wees lief vir God se woord, kom ons wees daaroor verheug en bly, kom ons gebruik dit en lees en oordink dit, want soos `n helder lamp wys dit vir ons die regte paaie aan, dit wat die Here van ons verwag as sy kinders. En kom ons leef die woord van die Here uit met dade van gehoorsaamheid tot sy eer en verheerliking.
Gebed:
Ons hemelse Vader, ons dank u vir u Woord wat soos `n helder lig skyn oor ons lewens en vir ons duidelik wys wat U van ons as u kinders verwag. Lei ons voortdurend deur U Heilige Gees sodat ons helder sal sien en duidelik sal hoor wat U van ons verwag in ons lewens elke dag, ook vandag.
Waar ons Sondag saam as dit U wil is gaan nagmaal vier, bid ons ook dat U ons sal bystaan wanneer ons ons voorberei en instel op die nagmaal. Gee dat ons eerlik sal inkyk in ons harte en lewens, dat ons onsself, ons geloof en gehoorsaamheid onder oë sal neem en opreg daaroor sal nadink. Gee dat ons nagmaalsdeelname uit opregte harte sal wees en waarlik tot U eer en tot versterking van ons geloof.
Ons bid ook graag vir Kobus en Magda Nel se kleindogter waar sy in die hospitaal is met longprobleme. Hou U hand van beskerming oor haar, en gee dat sy gou beter sal word. Ons bid dit alles in die Naam van ons Here Jesus Christus. Amen.