Preek uit Openbaring 20:7 – 21:5.
Teksverse Openbaring 20:8,9 en tema – die laaste oorlog!
Geliefde broeders, susters en kinders
Die afgelope aantal jare is daar die meeste oorloë sedert die tweede wêreldoorlog. Die een na die ander konflik en oorlog breek uit. Ongeveer vyf jaar gelede het Rusland Ukraine ingeval en die oorlog duur steeds voort. Talle oorloë in Sirië, dele van Afrika en dele in Asië het gevolg. Die mees onlangse oorlog die tussen die VSA en Israel aan die een kant en Iran aan die ander kant. As gelowiges probeer ons sin maak uit al die oorloë en probeer dieper daaroor dink, maar dis baie moeilik. Ons maak vanoggend die Woord van die Here oop om daaruit enkele perspektiewe te kry op oorlog. Spesifiek gaan dit in ons Skrif – en teksgedeelte oor die laaste oorlog op aarde.
Meer as tweehonderd keer word daar in die Bybel verwys na oorlog. Die eerste keer vroeg in die Bybel, in Gen. 14: 2 waar in Abraham se tyd sekere konings teen mekaar geveg het en hy weer sekere van hulle later in `n oorlog oorwin het. Die laaste keer wat in die Bybel na oorlog verwys word is juis in ons teksvers, Openbaring 20:8
Dis die tyd net voor die wederkoms van Christus. Satan het groot mag en hy wil vir oulaas sy mag teen die Here en die gelowiges gebruik. Ons lees in vers 8: Dan sal hy (Satan) gaan om die nasies wat tussen die vier uithoeke van die aarde is , die Gog en Magog, te verlei, en om hulle byeen te bring vir die oorlog. Hulle is so baie soos die sand van die see.
Satan het nie verander dwarsdeur die tyd van sy bestaan nie. Hy is nog steeds die groot verleier , die vader van die leuen soos toe hy in die paradys die eerste mense verlei het tot sonde en ongehoorsaamheid. Hy verlei talle en talle uit al die nasies om nou saam met hom vir oulaas die kerk van die Here in `n oorlog aan te val. Hy is mos die groot teenstaander van God en sy mense, en sy naam Satan beteken ook teenstander.
Dis sy laaste magsverset teen God en sy kinders. Hy wil God se gemeente en die diens aan hom vir eens en altyd uitroei. Hy verlei en mislei die goddelose wêreld om te dink hulle kan in hierdie oorlog wen.
Die goddelose mensdom uit alle nasies van die wêreld word in ons teksverse die Gog en Magog genoem. Hierdie name is in Esegiël 38 en 39 gebruik vir die koning Gog van die landstreek Magog wat destyds waarskynlik na Sirië en ander streke van sy ryk verwys het. Destyds in Esegiël sou die koning Gog talle volke monster om teen Israel te veg , maar die Here sê deur sy profeet in hoofstuk 38:21,22: Gog se manskappe sal mekaar met die swaard aanval. Ek sal hom tref met pes en dood, Ek sal wolkbreuke, hael en brandende swael op hom laat reën en op sy hordes en op die baie manskappe wat tot sy beskikking is.
In ons teksvers staan Gog en Magog vir die ontsaglike groot menigte uit alle nasies wat deur satan verlei is om teen God en sy kinders oorlog te maak.
Uit die hele wêreld kom hierdie Godvyandige magte om oorlog te maak . Ons hoor hulle het die laer van die gelowiges en die geliefde stad omring. Die gelowiges word vergelyk met woorde uit Israel se reis na Kanaän waar die volk dikwels soos `n laer rondom die Tabernakel byeen was. `n Tweede beeld vir die gelowiges is die geliefde stad. Dit dui op Jerusalem, gepas omdat Jerusalem dikwels in die geskiedenis beleër en omsingel is deur vyandige magte en volke. Soos die sand van die see is die getalle van die Godvyandige magte wat met hulle oorlog net een doel het – om die gelowiges en so die kerk van die Here finaal te vernietig.
En wat gebeur? Openbaring 20:8 se antwoord is baie kort. “Toe het daar vuur van die hemel af gekom en hulle verteer.” Hierdie woorde sluit duidelik aan by Esegiël se profesie waarna ons netnou verwys het waar God self ingegryp het en die leërmagte van koning Gog saam met talle volke onder meer getref het met brandende swael uit die hemel.
Hierdie laaste oorlog op aarde is nie `n uitgerekte stryd waarin gewonder word wie uiteindelik die oorwinning sal behaal nie. Dit is `n plotselinge oorwinning vir die Here en sy oorwinning oor die vyandelike magte word beskryf met vuur uit die hemel wat hulle verteer het.
Hierdie selfde laaste oorlog word ook in Openbaring 16:12-16 en Openbaring 19: 11-21 beskryf in ander visioene wat aan Johannes geopenbaar is. Openb 16:16 beskryf die plek van hierdie finale oorlog as Armaggeddon. Letterlik beteken dit berg van Megiddo. Waarom hierdie benaming? Blaai ons ver terug na die Ou testament in die boek Rigters vind ons die tyd toe Debora die leier van Israel was en Barak haar leërowerste. En by Megiddo het Israel `n onverwagse oorwinning behaal oor koning Jabin se leër wat deur Sisera aangevoer is. Hierdie leër het 900 strydwaens en duisende manskappe gehad. En met net 10000 man het Israel onder leiding van Barak en Debora die magtige leër van Sisera by Megiddo verslaan. Hoekom – want die Here was by hulle, Hy het aan hulle die oorwinning gegee.
Ook in die laaste oorlog teen Satan en sy wêreldmagte sal God die oorwinning gee. In Openb. 19:11-21 word hierdie selfde oorlogbeskryf in `n ander visioen. Johannes sien vir Christus as ruiter op `n wit perd. Sy leërskares van engele met wit klere en op wit perde was by Hom gewees. Op sy klere en op sy heupe was die naam geskryf – die Koning van die konings en die Here van die heersers. En plotseling sal Hy die oorwinning behaal in die finale oorlog teen Hom en sy volgelinge.
In die laaste oorlog sal God en sy Seun , Jesus Christus , die oorwinning behaal en sy vyande en sy volgelinge se vyande oorwin. Dit is vas en seker. Satan, die antichris en die valse profeet sal vir ewig eindig in die vuurpoel, die plek van ewige smarte en lyding, saam met hulle volgelinge.
Dikwels in die Woord is oorloë ook maniere waarop God in die tyd al op bepaalde maniere volke en mense geoordeel en gestraf het. Die feit is bekend dat Israel talle oorloë gevoer het toe hulle die beloofde land ingeneem het. Wat het egter agter hierdie oorloë gelê? Ons kry die antwoord in Levitikus 20: 23 waar die Here vir Israel sê: Julle mag nie die gebruike van die nasies wat Ek voor julle gaan uitdryf, navolg nie. Ek het juis `n afsku in hulle gekry omdat hulle al hierdie dinge doen. Israel se oorloë toe hulle die land ingeneem het, was ook `n straf van die Here teen die afskuwelike afgodery en praktyke van die volke in die land destyds.
Merkwaardig, later in die geskiedenis sou die rolle omdraai. Israel die verbondsvolk van die Here sou van Hom af wegdraai en afgode begin dien en aan Hom ongehoorsaam wees. Toe sou gebeur wat die Here in Levitikus 26: 24 gesê het : Ek sal julle nog swaarder straf oor julle sondes: ek sal `n oorlog oor julle bring. Dit sal die wraak wees oor julle ontrou aan my verbond. En Israel en Juda sou later inderdaad deur oorlog oorwin word en in ballingskap weggevoer word onderskeidelik na Assirië en Babel. `n Oorblyfsel sou egter later weer terugkeer na die land toe.
Oorlog vandag rondom ons. Laat ons maar nederig bly in ons sienings en interpretasies van die oorloë. Laat ons nie te gou wees in ons gevolgtrekkings oor wat die Here doen en aan wie se kant Hy is nie. Dink maar aan die oorlog tussen Ukraine en Rusland. Die groot meerderheid van die bevolkings in Rusland en Ukraine is Christene wat aan die Ortodokse kerk behoort. In die geskiedenis van die kerk het dit dikwels gebeur dat duisende Christene mekaar in oorloë doodgemaak het , byvoorbeeld die stryd tussen protestante en katolieke. En die oorlog in Iran. Dis eintlik drie groot godsdienste wat hier betrokke is. Amerika is hoofsaaklik Christene , Israel hoofsaaklik Jode en Iran hoofsaaklik shia Moslems. Maar weet ons dat daar tussen 300 en 500 duisend Christene in Iran is.
Wat ons wel duidelik weet is dat daar geen oorloë op die aarde sou wees as daar nie `n sondeval in die paradys was nie. Oorloë is verseker die gevolg van sonde in hierdie wêreld en in die harte van mense. Hoeveel oorloë word nie aangedryf deur magsbeheptheid, deur gierigheid en hebsug, deur rou haat en liefdeloosheid.
En vanuit al die oorloë smag ons na `n tyd van ware vrede , `n tyd sonder oorloë, vyandskap en haat. En die Bybel leer ons dat daardie tyd eers sal kom na die finale en laaste oorlog van Armageddon waar Satan en sy leërs deur God en ons Here Jesus Christus verslaan sal word.
Want daarna sal dit tyd word vir die nuwe Jerusalem , die nuwe stad van God. En uit die beskrywing van die nuwe Jerusalem in ons voorgelese gedeelte word dit duidelik dat daar geen oorloë meer sal wees nie.
Ons hoor mos oor die lewe in die nuwe Jerusalem in Openb 21: 4: Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed , smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan. Dit wat so eie is aan oorlog – dood, smart, pyn,leed – dit sal nooit meer wees in die nuwe Jerusalem. Die stad van volle vrede en vreugde. En luister wat word van die nuwe Jerusalem se poorte gesê in Openb 21: 25: Die poorte daarvan word gedurende die hele dag nooit toegesluit nie: daar sal nie meer nag wees nie . Poorte van stede moes destyds sterk wees om vyande uit te hou wat oorlog maak teen `n stad. Die nuwe Jerusalem se poorte sal altyd oop wees, want daar sal nie meer vyandskap en nie meer oorlog wees nie. En die woorde van psalm 46 verse 9,10 sal finaal in vervulling gaan waar ons lees: Kom kyk wat die Here gedoen het, watter ontsettende dinge Hy op die aarde tot stand bring: die oorloë oor die hele aarde laat Hy ophou, pyle en boë verbreek Hy, spiese slaan Hy stukkend, oorlogswaens verbrand Hy met vuur.
Maar baie belangrik. Hoe kom jy in die nuwe Jerusalem, hoe kry jy deel aan die ewige heerlikheid. Hoe weet jy dat jy aan God se kant staan in die finale oorlog, en vandag al? Jesus gee vir ons die sleutel op hierdie vrae wanneer Hy in Openb 16:15 sê: Kyk, ek kom onverwags soos `n dief. Geseënd is die een wat wakker bly en sy klere reghou, sodat hy nie kaal hoef te loop en die mens sy skande sien nie. Ons moet dus geestelik waaksaam en gereed wees , altyd , vir sy onverwagse koms op die wolke van die hemel en altyd ons regte geestelike klere aanhê. Hierdie klere is die wit klere van sy heiligheid en sy geregtigheid wat almal wat waarlik in Hom met volharding glo , ontvang en aanhet. Dit is hulle wie se name in die boek van die lewe staan. Amen.