Categories
Preke

Preek tema: Die soet en bitter boekie! 26 April 2026

Sondag 26 April 2026

Preek uit Openbaring 10

Teksvers: Openb. 10:10 en tema: Die soet en bitter boekie!

Geliefde broeders , susters en kinders

Die wêreld en sy mensdom gaan maar aan asof alles altyd dieselfde sal wees en dinge net al beter op aarde sal gaan. Die Openbaringboek, die laaste boek van die Bybel, vertel egter iets heel anders.  Dit vertel in kern dat God op die troon is en dat sy raadsbesluite op die aarde uitgevoer word en dat Hy alles lei na die voltooiing van alle dinge. Ook dat daar geweldige strafgerigte oor die goddelose mensdom sal kom , veral in die tyd voor Christus se wederkoms.

Voordat ons dieper kyk na die klein boekie in ons voorgelese hoofstuk wil ons net oorsigtelik hierdie hoofstuk plaas binne die Openbaringboek. Ons onthou nog die gesig van die troon van God wat in Openbaring 4 en 5 beskryf is. Daar was `n boekrol met sewe seëls en aanvanklik is niemand gevind wat daardie boekrol kon oopmaak nie. Toe is bevind dat die Lam, Christus, die boekrol van die ganse geskiedenis en God se beskikking oor alle dinge kon oopmaak. Daarna word in die Openbaringboek die sewe seëls van die boekrol oopgemaak en die betekenis daarvan opgeteken. Die sewende seël se inhoud het verwys na sewe engele wat op sewe trompette of basuine blaas. Ons Skrifgedeelte is opgeteken tussen die sesde en sewende trompet se boodskap.  Dis `n tussentoneel saam met die volgende gesig oor die tempel en die twee getuies. Dis twee gesigte ingevoeg tussen die sesde en sewende trompette.

Wat sien Johannes daar op die eilandjie Patmos in die Middellandse see volgens Openbaring 10.  Hy sien `n engel, `n sterk engel. Die figuur van die engel is kollosaal , groot en indrukwekkend.  Drie keer in hierdie hoofstuk hoor ons dat die engel se een voet op die see gestaan het en sy ander voet op die land. See en land is die twee groot dele van die aarde.  Sy boodskap raak alles op die aarde en al sy mense.    Sy ontsagwekkende voorkoms word sterk uitgelig en beklemtoon.   Hy is `n magtige gesant van die almagtige God.  Hy word `n ander engel genoem omdat hy nog nie tevore in die Openbaringboek genoem is nie.

En dan, opvallend, in sy hand is `n oop boekie, letterlik vertaal `n oop klein boekie of boekrolletjie.   Soos die verseëlde boekrol van Openbaring 4 en 5 dui hierdie klein boekrolletjie op God se raadsbesluite,  sy regering en beskikking. Dis oop want Hy openbaar sy raadsbesluite, dit moet bekendgemaak word , ook deur Johannes . Dis `n klein boekrolletjie , want dit gaan oor `n beperkte tyd voor die wederkoms van Christus en die finale oordeelsdag.

Dan kry Johannes binne die visioen  vreemde opdragte. Hy ontvang eers die opdrag volgens vers 8 van `n stem uit die hemel.  Hierdie stem uit die hemel dui op Goddelike gesag en die stem gee vir hom die opdrag: Gaan kry die oop boek daar in  die hand van die engel wat op die see en die land staan.  Wanneer hy na die engel gaan en die boekie vra gee die engel vir hom nog `n opdrag en voeg woorde by die opdrag: Neem dit en eet dit op.  Dit sal jou maag bitter maak, maar in jou mond sal dit so soet soos heuning wees.

Weereens gehoorsaam Johannes die opdrag binne die visioen. Ons lees dit in ons teksvers: Ek het toe die boekie uit die hand van die engel gevat en dit opgeëet. In my mond was dit so soet soos heuning, maar toe ek dit insluk het my maag bitter geword.

Hierdie gebeure laat ons ver terug dink in die Ou Testament.  Aan die profeet Esegiël  met wie soortgelyke dinge gebeur het. Esegiël het in hoofstuk 3 binne `n visioen `n opdrag van die Here ontvang om `n oopgerolde boekrol  op te eet. En dan hoor ons in vers 3: Ek het dit geëet en dit was soet soos heuning in my mond. Merkwaardige ooreenkoms met wat Johannes doen in Openbaring 10.

En nou die belangrike vraag: Waarom sou die klein boekie wat Johannes geëet het soet soos heuning in sy mond geproe het, maar in sy maag bitter geword het. Een klein boekie en tog twee smake , uiteenlopende smake, soet en bitter.

Soet is die boekie oor God se raadsbesluite soos dit tot uitdrukking kom in die redding van mense. God laat die blye evangelie van sy Seun se reddingsdade in die wêreld verkondig. Hy beskik dit so dat talle hoorders van die waarheid tot geloof kom en hulle bekeer.  Hierdie besluite proe soet soos heuning in die mond.  So kom sy koninkryk op aarde, versamel Hy sy uitverkore kinders en sy kerk uit alle volke , tale en nasies. So word sondige mense gered van sy straf en toorn,  word hulle kinders van die lewende God,leef hulle in `n nuwe gehoorsaamheid. En hulle het `n heerlike hoop op ewige lewe en wanneer Jesus weer kom word hulle bewoners van die nuwe aarde en die nuwe Jerusalem. Ja, heerlik soet proe die boekie van God se raadsbesluite wat handel   oor hulle wat gered word, deel het aan sy heil en die verlossingswerk van Jesus Christus.  Hulle wie se name in die boek van die lewe staan.

Maar, bitter proe die boekie oor God se raadsbesluite soos dit tot uitdrukking kom in die straf en veroordeling van mense. Hulle wat die blye evangelie van Christus enduit in hulle lewens verwerp. Ja, daar kom geweldige strafgerigte oor die goddelose wêreld, veral in die eindtye voor Christus se wederkoms.  In die vorige gedeelte van die Openbaringboek toe die ses trompette geblaas het en die betekenis daarvan deurgegee is, is geopenbaar van verskriklike oordele en strawwe, rampe en ellendewat die mense van hierdie sondige wêreld tref. Ook die gelowiges sal ly weens die rampe in die natuur en talle sal as martelare sterf.    Dan lees ons die hartseer woorde in hoofstuk 9:20: Die ander mense, wat nie deur hierdie plae doodgemaak is nie, het hulle egter nie bekeer nie. Hulle het aangehou met die aanbidding van bose geeste en van afgode……  Hulle het hulle ook nie daarvan bekeer om moord, towery, onsedelikheid en diefstal te pleeg nie.

Laat ons egter nooit daar wees dat ons ons verlekker oor God se oordele en strawwe oor ongehoorsame mense nie.  Nee, dit proe bitter en maak mens hartseer en ontsteld.  En as ons eerlik is moet ons erken. Ons almal verdien in  wese vanweë ons sondes en gebrokenheid God se regverdige straf en oordeel. Dit is maar net genade wanneer ons gered word, wanneer God ons lewend maak deur sy Heilige Gees en ons sy kinders maak deur die geloof in Jesus Christus.  Dis nooit ons eie verdienste nie. Laat ons ons nooit hoogmoedig verhef en ons verlekker oor die oordele van God oor ander nie.

Wanneer ons mooi na ons voorgelese gedeelte kyk dan vertel alles in hierdie hoofstuk van God se redding en van sy oordeel.  Hierdie twee sake blyk selfs uit die voorkoms en optrede van die groot en sterk engel met sy voete op die see en die land.

Sy voorkoms waar vuur en wolke so `n groot rol speel dui op die Here se oordeel.  Sy bene was mos soos vuurpilare en daar was `n wolk om hom.  Hy praat met `n harde stem wat klink soos `n leeu se brul, `n angswekkende geluid.  En daar is sewe donderslae wat praat en waarvan die boodskap deur Johannes geheim gehou moes word. Hierdie aspekte van die engel se verskyning simboliseer God se oordeel en straf oor die goddeloses. En ons dink in aansluiting hierby aan die woorde in psalm 97: 2,3 oor God se oordeel:  Wolke en duipe duisternis omring Hom, ……vuur gaan voor Hom uit en rondom Hom verbrand dit sy teenstanders.

En waar sien ons die genade van die Here in hierdie sterk engel se voorkoms?  Ja, in die reënboog wat bokant sy kop was.  Reeds op die eerste bladsye van die Bybel was die reënboog gegee as teken van God se getrouheid aan sy beloftes en sy genade.  Na die sondvloed waardeur die destydse wêreld geoordeel en gestraf is, het die Here mos vir Noag en sy seuns gesê in Genesis 9:11:  Ek sal my verbond met julle hou: Mens en dier sal nie weer deur vloedwaters uitgewis word nie. Daar sal nie weer `n oorstroming wees wat die aarde sal oorweldig nie.  En die teken van hierdie verbond  het die Here  gesê is die reënboog. Bo die sterk engel van  Openbaring 10 se kop is `n reënboog. Teken van God se genade, sy trou aan sy beloftes en woorde, ook in die Openbaringboek.

Maar kom ons dink `n bietjie meer prakties oor God se raadsbesluite en beskikking, sy regering oor ons eie lewens. En dan moet ons almal erken. Ook sy beskikking oor ons eie lewens proe soms soet en bitter.

Wanneer ons sy sorg en liefde as ons God en Vader ervaar en beleef. Wanneer dit goed gaan met ons en ons kinders en kleinkinders. Wanneer ons `n diep sekerheid het in ons geloof oor God en sy liefde en genade in ons lewens. Wanneer ons nadink oor ons ewige bestemming in hemelse heerlikheid.   Wanneer ons die Here se nabyheid in ons lewens ken en beleef. Dan proe sy raadsbesluite oor ons lewens soet, soet soos heuning.

Maar, wanneer die swaarkry en die beproewings ons tref. Die siektes, die dood van ons geliefdes, die finansiële verknorsings, die probleme met kinders en kleinkinders, nog vele meer. Dan proe sy raadsbesluite oor ons lewens bitter en pynlik.  Dit bring dikwels trane en hartseer, worstelinge en vrae, twyfel en stryd in ons binneste.

So het talle gelowiges dit ook al beleef. Dink maar net aan die vrou Naomi daar in die boek Rut. Sy het haar man en twee seuns deur die dood afgestaan en toe sy in haar land teruggekom het , het sy vir die mense gesê volgens Rut 1:20: Moet my asseblief nie meer Naomi noem nie, noem my Mara, want die Almagtige het die lewe vir my baie bitter gemaak.  Die swaarkry oor haar lewe beskik het bitter geproe.

Die bekende teoloog en digter, prof J. D du Toit, Totius, het in sy lewe ook deur baie swaarkry gegaan. Hy het `n jong seuntjie deur siekte verloor en `n tienerdogter deur `n weerligstraal in hulle plaashuis.  Die waarheid van Openb. 10 dat God se besluite soms soet en soms bitter proe, het hy op `n aangrypende manier weergegee met die beeld van `n Wag `n bietjie bos in `n gedig met die naam – Die Godsbesluit.  Hy het dit gedig na die dood van sy dogter.

Daarin sê Totius onder meer die volgende in gebed: Bo al U donker bome, o Heer, groei my `n enkele reusboom uit. Dit is die wag – `n bietjie – bos van U besluit. Van ver so skoon, so groen, so blink…maar hoe verward wanneer ek dieper kyk en dink as wat `n sondaar pas.  En steek ek dan my hande uit na U besluit, dan gryp ek in die dorings vas.

As gelowiges in wie die Heilige Gees woon en werk dink ons op `n nuwe manier oor God se beskikkings in ons lewens wat soms so bitter proe.  Nooit is God se beskikkings so bitter dat ons nie ook iets soets proe nie en nooit moet God se besluite oor ons ons verbitter of opstandig laat bly nie.  Ons weet mos uit sy Woord – Hy gebruik die swaarkry in ons lewens om ons te louter en die egtheid van ons geloof te toets, om ons te reinig en skoon te maak van sonde en verkeerdhede. Hy gebruik dit om ons geloof te laat groei en ons nader na Hom te bring in vertroue en gehoorsaamheid. Ja, ons weet mos wat in Rom. 8:28 staan:  Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, die wat volgens sy besluit geroep is. Amen.