Categories
Nuusbrief

Nuusbrief – Sondag 21 Junie 2026

1Prys die Here! Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie! 2Wie kan die magtige dade van die Here onder woorde bring? Wie kan sy lof ten volle verkondig? Psalm 106:1,2

 

Verwelkomingswoorde.

 

Dit is vir ons `n vreugde om vanoggend in ons erediens hier saam te kan wees. Mag die Here ons lei deur sy Heilige Gees sodat ons elkeen Hom waarlik sal ontmoet en met opregte harte sal dien en eer.  Mag ons dit wat ons vanoggend leer saamneem en uitleef in ons lewens elke dag. En kom ons gaan dra die Here se boodskap ook uit na ander wat Hom nie ken nie of van Hom wegbeweeg het.  Baie welkom aan almal – lidmate, kinders en besoekers.  

 

Ons vier as gemeente vanoggend saam nagmaal.  Wat `n blye voorreg om dit te kan doen en dat ons ook so in ons geloof opgebou en versterk kan word.

Ons erediens vanoggend

 

Ontmoetingsdeel:

Sang: Ps 33:11 (1936, p 161, tweede melodie)

Votum: Ps 106:1,2 (in Bybel)

Groetseën

Sang: Ps 89: 1,11(1936, p444 )

Apostoliese Geloofsbelydenis

Sang:Lied 334:1,4

 

Verootmoediging- en versoeningsdeel.  

Die Here se opdragte:Rom. 13: 8-14
Versoening:Rom 8:31,32

Sang:Sk 10-2

 

Woordgedeelte: 

Gebed

Sang:Ps 40:4 (1936, p 205, tweede melodie)

Skriflesing:Lukas 23: 44-56

Teksvers:Lukas 23:46

Prediking met tema:

Inspirasie en moed uit Jesus se laaste kruiswoord.

 

Antwoordgedeelte:

Sang:  Lied387: 2,3,4

Nagmaalsviering

Sang met voorberei van tafel: Ps 23: 1,3 (1936, p 107)

Sang tydens nagmaal: Sk 5-3:1,2

Slotsang:Lied449: 1,2,3
Wegstuurseën

Sang(amen): Sk 13-2

 

Tema van die preek:

Inspirasie en moed uit Jesus se laaste kruiswoord.

 

Dis die sewende en laaste keer dat Jesus praat aan die kruis.  Dis die woorde wanneer Hy sterf.  Dis aktiewe woorde.  Hy tree selfs op in sy sterwensoomblikke. En nou rig Hy Hom weer tot sy Vader.  Soos in die eerste kruiswoord.  So inspireer Hy ons om God as Vader te ken en aan te spreek, wat `n voorreg.  En nou kan ons met moed ons eie dood tegemoetgaan in die wete dat ons vir nou en ewig in die hande van ons Vader is.

 

Kollektes:  Diakonale Dienswerk en Gemeente Uitgawes

Katkisasie:  Geen     

Teeskink: Vrywilligers

 

Lief en leed.

 

Judie Schoeman is weer tuis na `n operasie die afgelope Maandag in die Urologiese Hospitaal. Ons dank die Here saam met jou dat alles goed afgeloop het en ons bid dat jy spoedig en volledig sal herstel en genees.

 

Laat ons getuies wees na buite!

 

Die gesindheid waarmee ons getuies van die Here is, is van die uiterste belang.  Soms benader gelowiges ongelowige of kerklose mense met `n verkeerde gesindheid.  Dit kan verskeie vorme aanneem.  `n Gesindheid van hoogmoed wat dink hy is darem beter of selfs hoër as die ongelowige.  `n Gesindheid waarin dit blyk dat die getuie eintlik dit doen net uit plig en om dalk sy eie gewete te stil.  Of `n gesindheid waarin die getuie die boodskap bring om vir sy getrouheid geprys te word. Hierdie en ander verkeerde gesindhede word maklik aangevoel deur die ongelowige wat die boodskap hoor.  Natuurlik weet die Kenner van harte dit ook.

 

Dit is van die uiterste belang om as getuie van God se waarheid die regte gesindheid te hê. Benader die ander persoon altyd nederig en vol van liefde vir hom of haar.  `n Gesindheid waarin jy waarlik laat blyk dat jy die persoon se voordeel soek en nie daar is vir jouself nie.  Dat jy uiteindelik die Here se eer wil uitbou deur jou getuieniswerk en nie jou eie eer nie.  Die woorde in 1 Korintiërs 13:2  oor die liefde is verseker ook op elkeen van ons van toepassing wanneer ons getuies van die Here se waarheid is :  Al  het ek die gawe van profesie en ken ek al die geheimenisse , en besit ek al die kennis, en al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks.

 

Kleuterbegeleiding.

 

Weens die  nagmaal vanoggend en die komende skoolvakansie sal daar weer op
Sondag 26 Julie kleuterbegeleiding beskikbaar wees.   Ouers wat belangstel kan met Elizabeth Versteeg skakel (selno. 072 189 8499)

 

Gebed.

 

Vader in die hemel! Moet tog nie ons sonde voor ons staanmaak nie. Hou ons eerder staande teen die sonde. Gee dat ons elke keer wanneer ons aan U dink, nie vrees en skuld sal ervaar oor wat ons alles aangevang het nie,  maar eerder vrede en vreugde oor wat U alles vir ons gedoen het. Help oms om te vergeet hoe ver ons afgedwaal het, en eerder te onthou dat U ons daar kom haal het. – Sören Kierkegaard

 

 

As die Here by ons is, het ons geen rede om te vrees nie. Sy oë is op ons, sy arms om ons, sy ore gespits vir ons gebede-sy belofes staan vas en sy genade is genoeg. – John Newton. 

_________________________________________________________________________


Verlof – ds Wicus

 

Ds Wicus is vanaf 23 Junie met verlof tot en met 20 Julie.

 

Verjaarsdae die week:

 

Hartlik geluk aan die lidmate wat verjaar.

Ons wens jou ‘n geseënde en vreugdevolle nuwe lewensjaar toe

 

22 Junie, Jayrin Pretorius, Doop, A3

23 Junie, Leendert Theunissen, Belydend, 076-856-9688, A1

24 Junie, Awie van Zyl, Belydend, 082-5221-4655, B3

 

Vergaderings hierdie week.

 

Dinsdag 23 Junie: Finansiële Kommissie 19:00

Woensdag 24 Junie: Bybelstudie 10:15

Vrydag 26 Junie: SELA-groep

 

Kospakkielys:

 

2.5 kg Mieliemeel

2.5kg Suiker

1kg Verromer of langlewe melk

1kg Bruismeel

500g Makaronie of spaghetti

1kg Rys

100 sakkies tee

250g Kitskoffie

750ml Olie

400g Grondboontjiebotter

900g Konfyt

500g Sout

410g Gemengde groente

300g Cornbeef blik

400g Frikadelle in sous blikkie

400g Pilchards

275g Viennas blikkie

125g Gesnipperde tuna blikkie

500g Soja maalvleis

410g Tamatie en uie blikkie

410g Gebakte bone blikkie

200g Toiletseep

100ml Tandepaste

Toiletrolle

350ml Sjampoo

1kg Wasgoedpoeier (verkieslik 2 in 1)

400ml Skottelgoedseep

 

Lekkernye soos koekies en koeldrank tydens die kersseisoen.

 

 

Ons sendingshart: IRAK

 

Historiese en evangeliese kerke in Irak staar bedreigings van geweld, onverdraagsaamheid en diskriminasie in die gesig, veral vanaf Islamitiese ekstremiste en nie-Christen leiers. Hulle ervaar ook diskriminasie deur regeringsagentskappe.

Die grootste druk op Irakse Christene kom van Iran-gesteunde Sjiïtiese militêre magte, insluitend ʼn Christelike burgermag, die Babilon-beweging, wat daarop aanspraak maak om hulle te verteenwoordig, maar grootliks beheer word deur Sjia-magte, wat die meeste Christelike burgemeesters verwyder en verkiesingswette uitgebuit het. Boonop het Turkse en Iranse militêre operasies in Irakse Koerdistan, wat die Koerdistan Werkersparty (PKK) teiken, Christelike dorpe ernstig beskadig en baie mense laat vlug.

Christelike burgers in Irak ervaar herhaaldelike onteiening van eiendom deur invloedryke politieke, ekonomiese en sosiale groepe, ʼn probleem wat die regering al meer as twee dekades sukkel om op te los. Historiese sowel as evangeliese kerke staar bedreigings van geweld, onverdraagsaamheid en diskriminasie in die gesig, veral van militante Islamitiese groepe en nie-Christelike leiers. Hulle ervaar ook diskriminasie deur regeringsagentskappe. Christene wat vanuit Islam tot bekering kom, ervaar familie- en sosiale druk, die risiko van geweld en verlies van regte.

_________________________________________________________________________

As God ons geliefde Vader is ,is daar `n betroubare, stewige raam om ons hele bestaan, en ons sal nie daar uitval nie. – Jörg Zink

 

 

Nuus van die biblioteek

Die biblioteek het ‘n aantal boeke present gekry. Hulle is ‘n waardevolle toevoeging tot ons voorraad. Baie dankie !

 

BURGER, Hannes:    In eenvoud voor God. Vrede en vreugde op sy beste. Uitg. CUM, datum2000.

Die skrywer gaan van die standpunt uit dat ware vrede en vreugde begin by ‘n opregte éénvoudige verhouding met die Here. Eers daarvandaan kan die verhouding uitkring na ons verhouding met mekaar en ons elkedagse lewe.

Klassifikasienommer: M3 / BUR  (Met’n rooi kol gemerk.)

 

VAN NIEKERK,  Rassie: Verlies, pyn en die verwerking daarvan. Vind hoop en vertroosting na die dood van ‘n geliefde.Uitg. CUM. Datum 2de uitg. 2008

Hierdie boek gee praktiese begeleiding aan  mense wat geweldige verliese in hulle lewe beleef het. Hy maak dit duidelik dat ons slegs by die Allerbron van krag en genade werklik troos en moed sal vind om die toekoms vol hoop tegemoet te loop.

Klassifikasienommer: C5 / VAN  (Met ‘n rooi kol gemerk.)

 

LOMBAARD,  Christo(red.): Skielik is ek alleen; praktiese raad en troos vir hulle wat agterbly. Uitg. Aktua, datum 1998

Hierdie boek handel oor die verlies van ‘n lewensmaat deur die dood, die klem val meer op die vrou wat alleen agter bly. Ses kundiges, elkeen ‘n kenner van hulle vakgebied, gee raad vir die vrae wat gaan opkom. Verder gee hulle ook praktiese raad om te help met finansies, die boedel ens. Hierdie boek is ‘n meer praktiese werk as die vorige boek wat hierbo genoem word. Deurgaans word die leser egter verseker dat daar ‘n Trooster is wat hom/haar sal vertroos en dra.

KLassifikasienommer: M3/ LOM( Met ‘n rooi kol gemerk.)

 

JOUBERT, Stephan:   Ontsluit die Nuwe Testament. Omvattende Bybelreise vir ‘n beter verstaan van die Skrif. Uitg. CUM, datum 2012. (Reeks: Ontdek en beleef By-belstudie.)

Die werk bied die leser 96 omvattende stu-dies wat hom bemagtig om die Nuwe Testament se teologie, opbou, inhoud, doel, verhaalgang enstyl goed onder die knie te kry. Dit is ‘n naslaanwerk.

Klassifikasienommer: Naslaan B / JOU(Met ‘n rooi kol gemerk.)

 

Margreet van Lochem

 

Vir ons jeug.

 

31Wat God doen, is volmaak; wat die Here sê, is suiwer. Elkeen wat by Hom skuiling soek, beskerm Hy. Ps 18:31

 

Skoolvakansie.

 

Die skole sluit eerskomende Vrydag en open weer op 21 Julie. Geniet julle rustyd. Mag die Here julle beskerm en oppas en aan julle nuwe krag gee vir die res van die jaar.

 

Mootkamp:  (gereël deur Streeksinode Pretoria se Jeugdeputate)

 

By Fraaiboskampterrein 12-18 Julie

Vir graad 10-12 leerlinge

Koste: R1000

Navrae: SJ – 066 391 7446

 

Mootlite kamp

 

Vir gr 5-9 leerders.

Tema: Geloof is `n werkwoord.

By Thaba Marula kampterrein

28 Junie tot 3 Julie

Koste: R1200

Vir inligting ds Lohan Linde – 084 787 5119

Skakel om in te skryf:  https://forms.gle/L8264pG8s3JEYTVY7

 

 

Katkisasie.– geen (nagmaal)

 

Filii Dei Jeugbyeenkoms:

 

Ons volgende byeenkoms is Vrydag 28 Augustus .

Hou solank die datum oop en nooi jou vriende.

Onthou om te laat weet wie kom almal.

Tannie Caréna 083-618-7678

Categories
Inspirasie

Inspirasie vir die dag – 17 Junie 2026

Woensdag  17 Junie 2026.

Vooraf: Ons herinner almal in ons gemeente aan ons nagmaalsviering DV eerskomende Sondag, 21 Junie.   Ons wil al ons lidmate aanmoedig om te kom deelneem aan hierdie sakrament wat ons Here Jesus ingestel het die aand voor sy kruisdood.

Ons oordink graag vanoggend psalm 111 in ons Woensdagboodskap. Dis `n psalm vol vreugde waar die digter met blydskap nadink oor die Here en sy dade.  Sy nadenke oor God en sy wonderlike dade motiveer en inspireer hom om die Here te loof. So sê hy in vers 1: Met my hele hart wil ek die Here loof in die samekoms van die opregtes, in die gemeente.  Hy wil die Here nie net in sy huis persoonlik loof en prys nie, maar  ook saam met sy medegelowiges waar hulle byeenkom by die tempel.

Die Here se dade vir sy kinders vloei voort uit bepaalde eienskappe van Hom. Ons hoor in vers 4 die uitroep van die digter: Genadig en barmhartig is die Here. Alles wat die Here doen vir sondige mense, destyds en vandag, spruit voort uit sy genade en sy barmhartigheid.

Genade beteken Hy handel met sondige mense anders as wat hulle verdien. En barmhartigheid dui op sy deernis en liefdevolle ontferming oor sondige mense in hulle nood.

In die nagmaal blyk hierdie twee eienskappe van die Here ook so duidelik.  Want nagmaal gaan oor die kruisiging van ons Here Jesus waar Hy sy liggaam en bloed as offer gegee het vir ons sondes, afgeteken in die tekens van brood en wyn.

Dis vanweë God se genade en sy barmhartigheid oor sondige mense dat Hy sy Seun gegee het om so te kom sterf in die plek van sondige mense en met hulle sondes op Hom.  En elkeen wat in Jesus glo kry deel aan God se genade en sy barmhartigheid.  As gelowige beleef jy deur die geloof in die gekruisigde Verlosser God wat sonder dat jy dit verdien jou vryspreek van sondes en sondeskuld, wat vol barmhartigheid en deernis jou aanneem as sy kind en wat as Vader met jou `n pad stap in jou lewe. Mag ons nagmaalsviering opnuut ons oë oopmaak vir God se genade en sy barmhartigheid in ons lewens, ook elke dag. En kom ons kom loof en prys Hom almal saam met vreugde daarvoor in ons samekoms Sondag.

Gebed.

Ons Vader in die hemel, ons loof en prys U vanoggend opnuut met blydskap in ons harte. Ons loof en prys U vir U genade en barmhartigheid oor sondige mense soos elkeen van ons. Ons loof en prys U met vreugde oor U genade in Jesus Christus aan ons bewys.  U het die wêreld so liefgehad dat U U enigste Seun gegee het , sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Dankie vir nog `n geleentheid wat U vir ons as gemeente Sondag gee om saam nagmaal te kan vier en so ook saam bly te kan wees oor U genade en ontferming aan ons in ons lewens.

Dankie dat ons in die klein dingetjies van elke dag U hand van genade en sorg en liefde in ons lewens kan raaksien. Ons loof en dank U daarvoor,  om Jesus ontwil.
Amen.

Categories
Preke

Preek – Sondag 31 Mei Tema: Jesus se Godverlatenheid – sodat ons nooit deur God verlaat word nie.

Preek uit Markus 15: 25-39 en teksverse 33,34.

Tema: Jesus se Godverlatenheid – sodat ons nooit deur God verlaat word nie.

 

Geliefde broeders, susters en kinders.

Wanneer die donkerte van swaarkry ons lewenspaaie kruis, gaan daar soms die worstelvraag duur ons gemoed – Het God my dan verlaat? Ja, wanneer die ongeneeslike siekte ons pad kruis, ons onbeskryflike pyn moet verduur, wanneer ellende en armoede ons deel word en ons vir die soveelste keer ons werk verloor, wanneer ons besittings of motor in `n roof gesteel word, wanneer my man of vrou my in die huwelik verlaat, en soveel van my geliefdes sterf. Dan voel dit soms vir ons asof God ons verlaat het.  Maar is dit so? Kom ons ondersoek Jesus se vierde kruiswoord om antwoorde te vind.

Ons is steeds in ons gedagtes daar by die kruis van Jesus, daardie Vrydag.  Hy is die oggend om 9 uur aan die kruis vasgespyker deur die Romeinse soldate. Nou is dit al 12 uur die middag.  En skielik gebeur daar iets, nogal in die skepping.  Daar kom skielik duisternis, en dit oor die hele land.  Hoe dit spesifiek so donker kon word, is nie vir ons presies duidelik nie.  Lukas noem dit in sy evangelie `n sonsverduistering.  Nietemin, dit was `n ingryping van God. En die duisternis het drie ure lank geduur, tot drie-uur daardie middag.

En aan die einde van die duisternis. Skielik `n uitroep van Jesus. Hy het met `n harde en luide stem woorde uitgeroep. Met `n kreet vanuit sy diepste belewing van angs het Hy hard gesê:  Eloi, Eloi, lema sabagtani.  Hy gebruik sy moedertaal vir hierdie woorde, Aramees.  Aramees was `n dialek van Hebreeus wat destyds algemeen onder die Jode gebruik is.  Markus vertaal die betekenis vir sy lesers na Grieks toe . En in Afrikaans lui Jesus se vierde kruiswoorde soos volg: My God, my God, waarom het U My verlaat?

Tydens Jesus se lewe op aarde het Hy dikwels beleef hoe mense Hom verlaat het.  Op `n stadium volgens Johannes 6 het Hy `n groot aantal volgelinge of dissipels gehad en dan word sy woorde vir hulle te erg en dan lees ons in Joh. 6: 66 : “Hieroor het baie van sy dissipels omgedraai huis toe en nie meer saam met Hom gegaan nie.” En nie lank gelede was dit een van sy binnekring dissipels, Judas Iskariot, wat Hom verlaat het en Hom verraai het met sy gevangeneming.

Tog het Hy in sy lewe steeds die nabyheid van sy Vader beleef. Ons hoor hieroor wat Hy in Joh. 8:29 sê: Hy wat My gestuur het, is by My. Hy het My nie alleen gelaat nie, omdat Ek altyd doen wat Hy wil.   Dikwels in sy lewe het Hy dan ook tot sy Vader gebid. Ook nie lank gelede in die tuin van Getsemane het Hy tot sy Vader gebid en selfs vroeër hier aan die kruis tydens sy eerste kruiswoorde het Hy met sy Vader gepraat en gesê: Vader, vergeef hulle , want hulle weet nie wat hulle doen nie.

Maar dan breek die drie ure van duisternis aan om 12 die middag.  En dis asof die Vader agter die donkerte wegskuif.  Ja, Jesus beleef – Hy is ook deur sy Vader verlaat.  Die woord kan ook beteken dat Hy laat vaar is, opgegee is , versaak is.  Hier in die donkerte van die duisternis ervaar Jesus nie meer die nabyheid, die liefde die sorg en vriendelike teenwoordigheid van sy Vader nie.

Hier het Hy te doen met God alleen. Die almagtige en regverdige God wat nou as regter optree.  God wat as Regter optree en die ewige straf oor die sonde van die mens nou op Hom laat afkom.  In die duisternis omhul tref die toorn en oordeel  van God oor die sondes van die hele menslike geslag Hom, ook oor ons sondes.  Dit wat ons deur ons sondes verdien het, tref vir Jesus aan die kruis – God se toorn en oordeel.

Ja, inderdaad die volle smart, die volle angs, die volle vrees en verskrikking van die hel word sy deel.  Jesus van God verlate! Dis mos die hel – om van God verlate te wees. Sonder die liefdevolle nabyheid van die Vader.  Dis die dieptepunt van Jesus se lyding wat Hy daar tydens die drie ure duisternis beleef het.  Die lyding van die hel het Hy daar ondergaan , soos ons dit elke Sondag in die twaalf artikels bely. Die hel is mos waar alle bande gebroke is. Bande tussen mens en mens, bande tussen God en mens.

Dis wat Jesus in werklikheid en absoluut deurgegaan het in die duisternis daardie Vrydag aan die kruis.  Geskei van sy Vader. Verlate van God in die volste sin van die woord. En so gebruik Jesus in sy harde smartkreet die woorde van psalm 22: 2 waar Dawid uitgeroep het – My God, my God, waarom het U my verlaat.  Hierdie woorde kom tot volle belewing en vervulling wanneer Jesus dit hier uitroep.

Dis nie woorde om God tot verantwoording te roep en te verklaar wat Hy hier doen nie. Dis nie woorde van ongeloof of opstand nie of woorde wat aandui dat Hy nie bereid is om te sterf nie. Dis sy uitroepe van die diepste angs, pyn en lyding. Sy angskreet van verlatenheid.

En alhoewel Jesus nie sy Vader se nabyheid beleef nie, hou Hy nog in geloof vas aan God met die woorde wat  Hy twee maal herhaal – My God, my God…Dis net hier in die Bybel wat Jesus sy Vader so aanspreek – my God.

En die duisternis  in die skepping dra ook die boodskap oor van God se toorn en oordeel wat sy Seun hier tref.  In die Bybel sien ons dikwels `n naby verhouding tussen wat met Jesus gebeur en wat in die skepping plaasvind. Reeds by sy geboorte gebeur daar iets in die skepping.  `n Ster het beweeg en bo sy geboorteplek gaan staan.

En hier met sy sterwe, tydens die dieptepunt van sy lyding aan die kruis, sy Godverlatenheid, praat die skepping ook saam.  Die skepping druk tydens die drie ure duisternis uit wat die Lig van die wêreld hier aan die kruis beleef – straf, oordeel, die smart van die hel.

God se teenwoordigheid word in die Bybel dikwels met lig uitgebeeld.  So sing ons in psalm 97: Gods vriendelike aangesig straal vrolikheid en lig.  In die hemel is sy ewige skitterende lig.

En so is duisternis in die Skrif aan die ander kant dikwels teken en simbool van God se oordeel en straf. Jesus het dikwels in sy gelykenisse en onderrig na die ewige verdoemenis en hel as die diepste duisternis verwys. En ons  lees in Amos 8:9 oor God se dag van oordeel die volgende: Daardie dag , sê die Here my God, laat Ek die son helder oordag ondergaan, maak Ek dit donker op aarde terwyl dit nog ligdag is.

Ja, toe Jesus deur God se oordeel en straf getref word, Hy deur die hel van Godverlatenheid, smart en verskrikking gaan, toe word dit donker in die skepping en word die diepste duisternis sy deel. Gaan Hy deur die diepste geestelike en fisiese lyding en eensaamheid. Nooit sal ons dit ten volle kan peil en begryp nie. Ons gedagtes is net te klein daarvoor.

En die doel van sy Godverlatenheid was juis om mense te red uit die diepste duisternis van sonde en die oordeel wat wag op sonde. As die eerste mensepaar nie die sonde gekies het en God so verlaat het nie, sou dit nooit nodig gewees het dat Jesus die oordeel van God en Godverlatenheid aan die kruis deurgegaan het nie.

En nou die heerlike gevolg van Jesus se bereidheid hiertoe.  Elkeen wat in Hom glo word nooit deur God verlaat nie.  As dit soms vir ons as gelowiges so voel dat God ons verlaat het, moet ons hierdie gevoelens in geloof weerstaan. En ons moet vashou aan die Woord van die Here en sy beloftes.

God het sy Seun verlaat aan die kruis toe Hy uitgeroep het – My God, my God , waarom het U My verlaat – sodat ons nooit meer deur God verlaat sou word nie. Dis die woorde wat ons in die formulier hoor elke keer as ons nagmaal vier.

Wanneer ons glo dat God sy Seun in ons plek verlaat het, kan ons met blydskap en sekerheid die woorde hoor wat die Here dikwels in die Skrif vir sy kinders sê – Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie. (Heb. 13:5)

Wanneer mense en vriende ons verlaat en van ons skei , selfs die naaste mense aan ons en dit vir ons voel asof God ons ook verlaat het, kan ons met blye harte uitroep die woorde in psalm 27: 10: Al sou my vader en my moeder my verlaat, die Here sal my onder sy sorg neem.

Wanneer die donker tye van eensaamheid, kroniese siekte en pyn, depressie en moedeloosheid, finansiële druk en werkloosheid, armoede en stryd my deel word en dit vir my voel asof God my verlaat het en ek die woorde in psalm 102: 7 wil uitroep – Ek voel so verlate soos `n pelikaan in `n woestyn, soos `n uil tussen murasies.  Dan moet ek in geloof vashou daaraan dat God vir Jesus daardie Vrydag aan die kruis in my plek verlaat het om my nooit ooit te verlaat as sy kind.  Hy is altyd by my.

Selfs wanneer vervolging oor my pad kom kan ek nogtans vashou aan my Vader se nabyheid en soos Paulus sê in 2 Kor. 4: 9 : Ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie.

En wanneer eendag die dood oor my pad kom en ek besef dat my aardse tyd verby is, dan kan ek nogtans as gelowige die dood met hoop tegemoet gaan, en vashou aan die waarheid dat God sy kinders ook nie in die dood verlaat nie, maar steeds in liefde by hulle is en hulle vir ewig in sy Vaderhande vashou.

Ja, in die besef van my naderende dood kan ek saam met Paulus met vreugde uitroep in Rom 8:38,39:  Hiervan is ek oortuig: Geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

Dit alles is die blye troos van Jesus se vierde kruiswoorde: My God, my God, waarom het U My verlaat? Amen

 

 

Categories
Preke

Preek – Sondag Mei 2026 Tema: Laat U Naam geheilig word – ons bede en opdrag!

Preek uit Matteus 6:5-15 met teksvers Matteus 6:9

Tema: Laat U Naam geheilig word – ons bede en opdrag!

Geliefde broeders, susters en kinders.

 

Dikwels hoor ons met skok hoe ander mense, ook in films en oor sosiale media, die Naam van die Here gebruik.  Hoe behoort ons as gelowiges die Naam van God te gebruik en watter verantwoordelikhede het ons teenoor sy Naam.  Ons wil graag hierop uit die Skrif vanoggend antwoorde vind.

Toe Jesus hier in Matteus 6 met sy dissipels gepraat het oor gebed was hulle steeds teen die berg waar Hy gaan sit het en hulle geleer het. Dis deel van sy bekende bergpredikasie.  Na bepaalde waarhede oor gebed het Hy vir hulle `n voorbeeld van gebed voorgehou in die Onse Vader gebed.  En die eerste bede van hierdie mees bekende gebed lui soos volg – Laat U Naam geheilig word.  Kom ons kyk vanoggend na hierdie bede se betekenis en die opdrag wat uit hierdie bede na ons toe kom.

Dis `n bede hierdie en tog in die passiewe vorm.  Laat geheilig word, U Naam. So staan dit letterlik vertaal.  Met ander woorde. Hier roep ons God se hulp in sodat ons sy Naam heilig.

Wat beteken dit nou om God se Naam te heilig.  Heel eenvoudig kan ons dit soos volg stel. Dit beteken om God se Naam as heilig te hanteer. Om God se Naam met respek en eerbied te gebruik.

Om God se Naam op `n heilige manier te hanteer beteken om dit anders te gebruik as wat hierdie sondige mensdom dit gebruik.  Om jou gebruik van God se Naam af te sonder van die sondige gebruik daarvan.  Dit is skokkend om te hoor hoe die mense van hierdie wêreld dikwels God se Naam misbruik en dit op `n ydele manier gebruik.  In films , oor sosiale media en in gesprekke word God se Naam soms bloot as `n uitroep gebruik, amper soos `n vloekwoord, met geen begrip dat dit `n heilige en grote God is wie se Naam hier op so `n leë en spottende manier gebruik word.  In howe gebruik mense God se Naam op `n onheilige manier wanneer hulle ede in sy Naam aflê en dan daarna leuens vertel met Hom as getuie.

Ons het as gelowiges soms die verantwoordelikheid om die heilige gebruik van God se Naam te beskerm.  Soms sal ons ons stilte in gesprekke met familie en vriende en werksmense wat God se Naam ontheilig,  moet verbreek. Met wysheid en in liefde sal ons soms moet opstaan vir die Here en ander teregwys en vermaan wat sy Naam onteer met hulle woorde.

Maar die belangrike vraag is . Is ons nog bedroef en geskok oor hoe God se Naam ontheilig word? Krap dit ons nog om en ruk dit ons nog tot stilstand? `n Kind is mos in die lewe omgekrap as sy ouers se name gespot of beledig word deur iemand terwyl hulle dit hoor. Hoeveel te meer behoort ons omgekrap en ontsteld te wees as ander die Naam van ons hemelse Vader ontheilig, spot, misbruik of ydellik gebruik.  Of –  het ons al so daaraan gewoond geraak? Ons sal tog net praat met mense wat sy  Naam onteer as dit ons diep en innig raak en verwond in ons binneste, nie as dit ons nie pla nie.

Ons sal God se Naam verder net heilig en met ontsag hanteer in ons eie lewens wanneer ons Hom reg ken. Dit word ook in die Kategismus duidelik uitgelig.  God se Naam dui op sy wese,  wat Hy is en doen.  En ons ken Hom uit die skepping en uit sy Woord.

Om God se Naam te heilig en so met respek te hanteer is soos die groot algemene beginsel wanneer ons sy Naam op ons lippe neem.  Binne hierdie algemene beginsel is daar verskeie maniere waarop ons heel prakties sy Naam kan heilig. En hierdie verskillende maniere leer ons in die Bybel.

Ons kan dit vergelyk met die beeld van `n reënboog. Een reënboog met sy verskillende strale met verskeie kleure.  Om God se Naam te heilig en so met respek te hanteer is soos sdie een reënboog. En om op verskeie maniere sy Naam prakties te heilig is soos die verskillende kleure strale van die reënboog.

Kom ons dink aan `n paar praktiese maniere waarop ons God se Naam kan heilig soos dit uit die Bybel duidelik word. Ons heilig sy Naam wanneer ons Hom saam met die skepping vereeras die grote en almagtige God wat alles geskep het in groot wysheid. Ons heilig sy Naam as ons Hom erken as God vol van krag en mag soos dit uit die hele skepping en alles in die skepping straal.  En ons dink aan die wonderlike woorde van Dawid in psalm 8: 2: Here, ons Here, hoe wonderbaar is U Naam oor die hele aarde.

Ons heilig sy Naam wanneer ons Hom by Name dank vir al sy onverdiende seëninge in ons lewens en vir sy hulp en nabyheid in soveel praktiese omstandighede in ons lewens. Ons heilig sy Naam wanneer ons Homloof vir sy verlossingsdade in sy Seun Jesus Christus aan ons bewys.

Ons heilig sy Naam wanneer ons Hom roem en vereer vir sy goedheid en sy barmhartigheid deurdat Hy al ons sondes vergewe en ons aanneem as sy kinders deur die geloof in sy geliefde Seun.

Ons heilig sy Naam wanneer ons Hom prys en sy Naam grootmaak vir sy waarheid en sy getrouheid aan die waarheid van sy beloftes en woorde.

Wanneer ons God reg ken en al beter leer ken uit sy Woord sal ons Hom al meer bewonder en bly wees oor Hom en sy dade. Sal ons sy liefde, lankmoedigheid en geduld, sy trou, sy regverdigheid, sy goedheid, sy verhoring van ons gebede,  sy omgee in ons nood en talle ander dinge al beter leer ken en sy Naam daarvoor dank, loof en prys.

Verder sal ons God se Naam net heilig as daar `n diep nederigheid in ons is.  Ons erken tog nederig die grootsheid en uniekheid van die Naam van God wanneer ons sy Naam heilig en ons vir die heiliging van sy Naam beywer.

Die gebed, – laat U Naam geheilig word, is ten diepste ook `n gebed om die kragtige werking van die Heilige Gees in ons binneste.  Want slegs deur die werking van die Heilige Gees is ons in staat om met opregte en nederige harte God se Naam te heilig en vol eerbied en  ontsag sy Naam op ons lippe te neem.

En as ons soek na Iemand om na te volg as voorbeeld hoe om God se Naam te heilig, dan hoef ons nie verder te soek as ons Here Jesus Christus nie.  Steeds en altyd het Hy die Naam van God volmaak geheilig in sy lewe. En wanneer Hy sy gebed bid in Johannes 17 tot sy Vader voor sy kruisdood, wys Hy ook in die gebed daarop dat Hy God se Naam aan sy volgelinge bekend gemaak het wanneer Hy in vers 6 sê: Ek het U Naam bekend gemaak aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het.

Broeders en susters, liewe kinders, ons moet ook let op ons eie lewens, ons eie woorde en dade, sodat ons lewens nie daartoe bydra dat ander God se Naam ontheilig , bespot en belaster nie.  Die Kategismus wys ook in die laaste sin daarop dat ons ons lewens so moet inrig dat God se Naam nie om ons ontwil gelaster word nie, maar eerder geprys word.

Wanneer ons Sondagchristene is, wat op Sondae reg lewe en praat , maar van Maandae tot Vrydag by die werk praat en doen net soos wat ons wil, wat sal ander mense daarvan dink. Hulle weet mos ons is gelowiges. As ons maar net lyk soos ongelowiges, mense is wat net aan ons eie belange dink, mense wat onsself verhef en groot dink oor onsself, mense wat vol van haat en van rusie isMense is wat maar net ons sondige natuur uitleef.   Sal ander nie dink of sê.  Hierdie mens se God is verseker nie vir hom of haar belangrik nie, net op Sondae. En so sal hulle eintlik met God spot as `n God wat nie juis invloed het op sy kinders nie.

Maar die teendeel kan ook gebeur. Wanneer ons toegewyde kinders van die Here is,altyd en oral, in die skool en in die werkplek en tuis. Wanneer ons lewe onder die beheersing van die Heilige Gees en ons woorde en optrede dit wys.  Dan kan die wonder net gebeur dat ongelowiges op grond van ons lewens en woorde begin om God se Naam te verheerlik en te prys en so sy Naam te heilig in hulle lewens.  Jesus het mos gesê in Matt. 5:16: Laat julle lig so voor die mense skyn dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.

Laat U Naam geheilig word. Mag hierdie gebedswoorde wat Jesus ons leer bid het, steeds deel wees van ons gebede. Mag ons dit persoonlik en in ons gesinne en in ons eredienste bid vanuit nederige harte, met gloeiende erns en in opregtheid. En mag ons ook opnuut daardeur geïnspireer word om die Naam van die Here ons God altyd met heilige ontsag en eerbied te gebruik tot sy eer en verheerliking. Amen.

Categories
Aksies en Gebeure

Kunsvlyt

Nuut:  Kunsvlyt  “craft” oggende:

 

Thea Dewes bied ‘n kunsvlytoggend aan elke derde Saterdagoggend van die maand, tydens skooltermyne, tussen Februarie en Oktober.

Kom soos jy is. Benodighede word gratis voorsien.

Donasies is wel welkom vir aankope van nuwe voorraad en alle eksta donasies gaan na die kombuisfonds.

 

Hierdie is ‘n heerlike ontspannende oggend,

met die fokus op lekker kuier en kreatief wees.

 

Vir meer inligting, kontak gerus vir Thea 083-236-7120

Categories
Preke

Preek tema: Die soet en bitter boekie! 26 April 2026

Sondag 26 April 2026

Preek uit Openbaring 10

Teksvers: Openb. 10:10 en tema: Die soet en bitter boekie!

Geliefde broeders , susters en kinders

Die wêreld en sy mensdom gaan maar aan asof alles altyd dieselfde sal wees en dinge net al beter op aarde sal gaan. Die Openbaringboek, die laaste boek van die Bybel, vertel egter iets heel anders.  Dit vertel in kern dat God op die troon is en dat sy raadsbesluite op die aarde uitgevoer word en dat Hy alles lei na die voltooiing van alle dinge. Ook dat daar geweldige strafgerigte oor die goddelose mensdom sal kom , veral in die tyd voor Christus se wederkoms.

Voordat ons dieper kyk na die klein boekie in ons voorgelese hoofstuk wil ons net oorsigtelik hierdie hoofstuk plaas binne die Openbaringboek. Ons onthou nog die gesig van die troon van God wat in Openbaring 4 en 5 beskryf is. Daar was `n boekrol met sewe seëls en aanvanklik is niemand gevind wat daardie boekrol kon oopmaak nie. Toe is bevind dat die Lam, Christus, die boekrol van die ganse geskiedenis en God se beskikking oor alle dinge kon oopmaak. Daarna word in die Openbaringboek die sewe seëls van die boekrol oopgemaak en die betekenis daarvan opgeteken. Die sewende seël se inhoud het verwys na sewe engele wat op sewe trompette of basuine blaas. Ons Skrifgedeelte is opgeteken tussen die sesde en sewende trompet se boodskap.  Dis `n tussentoneel saam met die volgende gesig oor die tempel en die twee getuies. Dis twee gesigte ingevoeg tussen die sesde en sewende trompette.

Wat sien Johannes daar op die eilandjie Patmos in die Middellandse see volgens Openbaring 10.  Hy sien `n engel, `n sterk engel. Die figuur van die engel is kollosaal , groot en indrukwekkend.  Drie keer in hierdie hoofstuk hoor ons dat die engel se een voet op die see gestaan het en sy ander voet op die land. See en land is die twee groot dele van die aarde.  Sy boodskap raak alles op die aarde en al sy mense.    Sy ontsagwekkende voorkoms word sterk uitgelig en beklemtoon.   Hy is `n magtige gesant van die almagtige God.  Hy word `n ander engel genoem omdat hy nog nie tevore in die Openbaringboek genoem is nie.

En dan, opvallend, in sy hand is `n oop boekie, letterlik vertaal `n oop klein boekie of boekrolletjie.   Soos die verseëlde boekrol van Openbaring 4 en 5 dui hierdie klein boekrolletjie op God se raadsbesluite,  sy regering en beskikking. Dis oop want Hy openbaar sy raadsbesluite, dit moet bekendgemaak word , ook deur Johannes . Dis `n klein boekrolletjie , want dit gaan oor `n beperkte tyd voor die wederkoms van Christus en die finale oordeelsdag.

Dan kry Johannes binne die visioen  vreemde opdragte. Hy ontvang eers die opdrag volgens vers 8 van `n stem uit die hemel.  Hierdie stem uit die hemel dui op Goddelike gesag en die stem gee vir hom die opdrag: Gaan kry die oop boek daar in  die hand van die engel wat op die see en die land staan.  Wanneer hy na die engel gaan en die boekie vra gee die engel vir hom nog `n opdrag en voeg woorde by die opdrag: Neem dit en eet dit op.  Dit sal jou maag bitter maak, maar in jou mond sal dit so soet soos heuning wees.

Weereens gehoorsaam Johannes die opdrag binne die visioen. Ons lees dit in ons teksvers: Ek het toe die boekie uit die hand van die engel gevat en dit opgeëet. In my mond was dit so soet soos heuning, maar toe ek dit insluk het my maag bitter geword.

Hierdie gebeure laat ons ver terug dink in die Ou Testament.  Aan die profeet Esegiël  met wie soortgelyke dinge gebeur het. Esegiël het in hoofstuk 3 binne `n visioen `n opdrag van die Here ontvang om `n oopgerolde boekrol  op te eet. En dan hoor ons in vers 3: Ek het dit geëet en dit was soet soos heuning in my mond. Merkwaardige ooreenkoms met wat Johannes doen in Openbaring 10.

En nou die belangrike vraag: Waarom sou die klein boekie wat Johannes geëet het soet soos heuning in sy mond geproe het, maar in sy maag bitter geword het. Een klein boekie en tog twee smake , uiteenlopende smake, soet en bitter.

Soet is die boekie oor God se raadsbesluite soos dit tot uitdrukking kom in die redding van mense. God laat die blye evangelie van sy Seun se reddingsdade in die wêreld verkondig. Hy beskik dit so dat talle hoorders van die waarheid tot geloof kom en hulle bekeer.  Hierdie besluite proe soet soos heuning in die mond.  So kom sy koninkryk op aarde, versamel Hy sy uitverkore kinders en sy kerk uit alle volke , tale en nasies. So word sondige mense gered van sy straf en toorn,  word hulle kinders van die lewende God,leef hulle in `n nuwe gehoorsaamheid. En hulle het `n heerlike hoop op ewige lewe en wanneer Jesus weer kom word hulle bewoners van die nuwe aarde en die nuwe Jerusalem. Ja, heerlik soet proe die boekie van God se raadsbesluite wat handel   oor hulle wat gered word, deel het aan sy heil en die verlossingswerk van Jesus Christus.  Hulle wie se name in die boek van die lewe staan.

Maar, bitter proe die boekie oor God se raadsbesluite soos dit tot uitdrukking kom in die straf en veroordeling van mense. Hulle wat die blye evangelie van Christus enduit in hulle lewens verwerp. Ja, daar kom geweldige strafgerigte oor die goddelose wêreld, veral in die eindtye voor Christus se wederkoms.  In die vorige gedeelte van die Openbaringboek toe die ses trompette geblaas het en die betekenis daarvan deurgegee is, is geopenbaar van verskriklike oordele en strawwe, rampe en ellendewat die mense van hierdie sondige wêreld tref. Ook die gelowiges sal ly weens die rampe in die natuur en talle sal as martelare sterf.    Dan lees ons die hartseer woorde in hoofstuk 9:20: Die ander mense, wat nie deur hierdie plae doodgemaak is nie, het hulle egter nie bekeer nie. Hulle het aangehou met die aanbidding van bose geeste en van afgode……  Hulle het hulle ook nie daarvan bekeer om moord, towery, onsedelikheid en diefstal te pleeg nie.

Laat ons egter nooit daar wees dat ons ons verlekker oor God se oordele en strawwe oor ongehoorsame mense nie.  Nee, dit proe bitter en maak mens hartseer en ontsteld.  En as ons eerlik is moet ons erken. Ons almal verdien in  wese vanweë ons sondes en gebrokenheid God se regverdige straf en oordeel. Dit is maar net genade wanneer ons gered word, wanneer God ons lewend maak deur sy Heilige Gees en ons sy kinders maak deur die geloof in Jesus Christus.  Dis nooit ons eie verdienste nie. Laat ons ons nooit hoogmoedig verhef en ons verlekker oor die oordele van God oor ander nie.

Wanneer ons mooi na ons voorgelese gedeelte kyk dan vertel alles in hierdie hoofstuk van God se redding en van sy oordeel.  Hierdie twee sake blyk selfs uit die voorkoms en optrede van die groot en sterk engel met sy voete op die see en die land.

Sy voorkoms waar vuur en wolke so `n groot rol speel dui op die Here se oordeel.  Sy bene was mos soos vuurpilare en daar was `n wolk om hom.  Hy praat met `n harde stem wat klink soos `n leeu se brul, `n angswekkende geluid.  En daar is sewe donderslae wat praat en waarvan die boodskap deur Johannes geheim gehou moes word. Hierdie aspekte van die engel se verskyning simboliseer God se oordeel en straf oor die goddeloses. En ons dink in aansluiting hierby aan die woorde in psalm 97: 2,3 oor God se oordeel:  Wolke en duipe duisternis omring Hom, ……vuur gaan voor Hom uit en rondom Hom verbrand dit sy teenstanders.

En waar sien ons die genade van die Here in hierdie sterk engel se voorkoms?  Ja, in die reënboog wat bokant sy kop was.  Reeds op die eerste bladsye van die Bybel was die reënboog gegee as teken van God se getrouheid aan sy beloftes en sy genade.  Na die sondvloed waardeur die destydse wêreld geoordeel en gestraf is, het die Here mos vir Noag en sy seuns gesê in Genesis 9:11:  Ek sal my verbond met julle hou: Mens en dier sal nie weer deur vloedwaters uitgewis word nie. Daar sal nie weer `n oorstroming wees wat die aarde sal oorweldig nie.  En die teken van hierdie verbond  het die Here  gesê is die reënboog. Bo die sterk engel van  Openbaring 10 se kop is `n reënboog. Teken van God se genade, sy trou aan sy beloftes en woorde, ook in die Openbaringboek.

Maar kom ons dink `n bietjie meer prakties oor God se raadsbesluite en beskikking, sy regering oor ons eie lewens. En dan moet ons almal erken. Ook sy beskikking oor ons eie lewens proe soms soet en bitter.

Wanneer ons sy sorg en liefde as ons God en Vader ervaar en beleef. Wanneer dit goed gaan met ons en ons kinders en kleinkinders. Wanneer ons `n diep sekerheid het in ons geloof oor God en sy liefde en genade in ons lewens. Wanneer ons nadink oor ons ewige bestemming in hemelse heerlikheid.   Wanneer ons die Here se nabyheid in ons lewens ken en beleef. Dan proe sy raadsbesluite oor ons lewens soet, soet soos heuning.

Maar, wanneer die swaarkry en die beproewings ons tref. Die siektes, die dood van ons geliefdes, die finansiële verknorsings, die probleme met kinders en kleinkinders, nog vele meer. Dan proe sy raadsbesluite oor ons lewens bitter en pynlik.  Dit bring dikwels trane en hartseer, worstelinge en vrae, twyfel en stryd in ons binneste.

So het talle gelowiges dit ook al beleef. Dink maar net aan die vrou Naomi daar in die boek Rut. Sy het haar man en twee seuns deur die dood afgestaan en toe sy in haar land teruggekom het , het sy vir die mense gesê volgens Rut 1:20: Moet my asseblief nie meer Naomi noem nie, noem my Mara, want die Almagtige het die lewe vir my baie bitter gemaak.  Die swaarkry oor haar lewe beskik het bitter geproe.

Die bekende teoloog en digter, prof J. D du Toit, Totius, het in sy lewe ook deur baie swaarkry gegaan. Hy het `n jong seuntjie deur siekte verloor en `n tienerdogter deur `n weerligstraal in hulle plaashuis.  Die waarheid van Openb. 10 dat God se besluite soms soet en soms bitter proe, het hy op `n aangrypende manier weergegee met die beeld van `n Wag `n bietjie bos in `n gedig met die naam – Die Godsbesluit.  Hy het dit gedig na die dood van sy dogter.

Daarin sê Totius onder meer die volgende in gebed: Bo al U donker bome, o Heer, groei my `n enkele reusboom uit. Dit is die wag – `n bietjie – bos van U besluit. Van ver so skoon, so groen, so blink…maar hoe verward wanneer ek dieper kyk en dink as wat `n sondaar pas.  En steek ek dan my hande uit na U besluit, dan gryp ek in die dorings vas.

As gelowiges in wie die Heilige Gees woon en werk dink ons op `n nuwe manier oor God se beskikkings in ons lewens wat soms so bitter proe.  Nooit is God se beskikkings so bitter dat ons nie ook iets soets proe nie en nooit moet God se besluite oor ons ons verbitter of opstandig laat bly nie.  Ons weet mos uit sy Woord – Hy gebruik die swaarkry in ons lewens om ons te louter en die egtheid van ons geloof te toets, om ons te reinig en skoon te maak van sonde en verkeerdhede. Hy gebruik dit om ons geloof te laat groei en ons nader na Hom te bring in vertroue en gehoorsaamheid. Ja, ons weet mos wat in Rom. 8:28 staan:  Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, die wat volgens sy besluit geroep is. Amen.

 

 

 

 

Categories
Preke

Sondag 12 April 2026 Preek tema: Die laaste oorlog!

Preek uit Openbaring 20:7 – 21:5.

Teksverse Openbaring 20:8,9 en tema – die laaste oorlog!

Geliefde broeders, susters en kinders

Die afgelope aantal jare is daar die meeste oorloë sedert die tweede wêreldoorlog. Die een na die ander konflik en oorlog breek uit.  Ongeveer vyf jaar gelede het Rusland Ukraine ingeval en die oorlog duur steeds voort.  Talle oorloë in Sirië, dele van Afrika  en dele in Asië het gevolg. Die mees onlangse oorlog die tussen die VSA en Israel aan die een kant en Iran aan die ander kant.  As gelowiges probeer ons sin maak uit al die oorloë en probeer dieper daaroor dink, maar dis baie moeilik.  Ons maak vanoggend die Woord van die Here oop om daaruit enkele perspektiewe te kry op oorlog.  Spesifiek gaan dit in ons Skrif – en teksgedeelte oor die laaste oorlog op aarde.

Meer as tweehonderd keer word daar in die Bybel verwys na oorlog. Die eerste keer vroeg in die Bybel, in Gen. 14: 2 waar in Abraham se tyd sekere konings teen mekaar geveg het en hy weer sekere van hulle later in `n oorlog oorwin het. Die laaste keer wat in die Bybel na oorlog verwys word is juis in ons teksvers, Openbaring 20:8

Dis die tyd net voor die wederkoms van Christus. Satan het groot mag  en hy wil vir oulaas sy mag teen die Here en die gelowiges gebruik.  Ons lees in vers 8: Dan sal hy (Satan) gaan om die nasies wat tussen die vier uithoeke van die aarde is , die Gog en Magog, te verlei, en om hulle byeen te bring vir die oorlog.  Hulle is so baie soos die sand van die see.

Satan het nie verander dwarsdeur die tyd van sy bestaan nie.  Hy is nog steeds die groot verleier , die vader van die leuen  soos toe hy in die paradys die eerste mense verlei het tot sonde en ongehoorsaamheid.  Hy verlei talle en talle uit al die nasies om nou saam met hom vir oulaas die kerk van die Here in `n oorlog aan te val.  Hy is mos die groot teenstaander van God en sy mense, en sy naam Satan beteken ook teenstander.

Dis sy laaste magsverset teen God en sy kinders.  Hy wil God se gemeente en die diens aan hom vir eens en altyd uitroei. Hy verlei en mislei die goddelose wêreld om te dink hulle kan in hierdie oorlog wen.

Die goddelose mensdom uit alle nasies van die wêreld word in ons teksverse die Gog en Magog genoem.  Hierdie name is in Esegiël 38 en 39 gebruik vir die  koning Gog van die landstreek Magog wat destyds waarskynlik na Sirië en ander streke van sy ryk verwys het.  Destyds in Esegiël sou die koning Gog talle volke monster om teen Israel te veg , maar die Here sê deur sy profeet in hoofstuk 38:21,22: Gog se manskappe sal mekaar met die swaard aanval.  Ek sal hom tref met pes en dood, Ek sal wolkbreuke, hael en brandende swael op hom laat reën en op sy hordes en op die baie manskappe wat tot sy beskikking is.

In ons teksvers staan Gog en Magog vir die ontsaglike groot menigte uit alle nasies wat deur satan verlei is om teen God en sy kinders oorlog te maak.

Uit die hele wêreld kom hierdie Godvyandige magte om oorlog te maak . Ons hoor hulle het die laer van die gelowiges en die geliefde stad omring.  Die gelowiges word vergelyk met woorde uit Israel se reis na Kanaän waar die volk dikwels soos `n laer rondom die Tabernakel byeen was.  `n Tweede beeld vir die gelowiges is die geliefde stad. Dit dui op Jerusalem, gepas omdat Jerusalem dikwels in die geskiedenis beleër en omsingel is deur vyandige magte en volke.  Soos die sand van die see is die getalle van die Godvyandige magte wat met hulle oorlog net een doel het – om die gelowiges en so die kerk van die Here finaal te vernietig.

En wat gebeur?  Openbaring 20:8 se antwoord is baie kort.  “Toe het daar vuur van die hemel af gekom en hulle verteer.”  Hierdie woorde sluit duidelik aan by Esegiël se profesie waarna ons netnou verwys het waar God self ingegryp het en die leërmagte van koning Gog saam met talle volke onder meer getref het met brandende swael uit die hemel.

Hierdie laaste oorlog op aarde is nie `n uitgerekte stryd waarin gewonder word wie uiteindelik die oorwinning sal behaal nie. Dit is `n plotselinge oorwinning vir die Here en sy oorwinning oor die vyandelike magte word beskryf met vuur uit die hemel wat hulle  verteer het.

Hierdie selfde laaste oorlog word ook in Openbaring 16:12-16 en Openbaring 19: 11-21 beskryf in ander visioene wat aan Johannes geopenbaar is.  Openb 16:16 beskryf die plek van hierdie finale oorlog as Armaggeddon.  Letterlik beteken dit berg van Megiddo.  Waarom hierdie benaming?  Blaai ons ver terug na die Ou testament in die boek Rigters vind ons die tyd toe Debora die leier van Israel was en Barak haar leërowerste.  En by Megiddo het Israel `n onverwagse oorwinning behaal oor koning Jabin se leër wat deur Sisera aangevoer is.  Hierdie leër het 900 strydwaens en duisende manskappe gehad.  En met net 10000 man het Israel onder leiding van Barak en Debora die magtige leër van Sisera by Megiddo verslaan.  Hoekom – want die Here was by hulle, Hy het aan hulle die oorwinning gegee.

Ook in die laaste oorlog teen Satan en sy wêreldmagte sal God die oorwinning gee. In Openb. 19:11-21 word hierdie selfde oorlogbeskryf in `n ander visioen. Johannes sien vir Christus as ruiter op `n wit perd.  Sy leërskares van engele met  wit klere en op wit perde was by Hom gewees. Op sy klere en op sy heupe was die naam geskryf – die Koning van die konings en die Here van die heersers.  En  plotseling sal Hy die oorwinning behaal in die finale oorlog teen Hom en sy volgelinge.

In die laaste oorlog sal God en sy Seun , Jesus Christus , die oorwinning behaal en sy vyande en sy volgelinge se vyande oorwin. Dit is vas en seker. Satan, die antichris en die valse profeet sal vir ewig eindig in die vuurpoel, die plek van ewige smarte en lyding, saam met hulle volgelinge.

Dikwels in die Woord is oorloë ook maniere waarop God in die tyd al op  bepaalde maniere volke en mense geoordeel en gestraf het.  Die feit is bekend dat Israel  talle oorloë gevoer het toe hulle die beloofde land ingeneem het.  Wat het egter agter hierdie oorloë gelê?  Ons kry die antwoord in Levitikus 20: 23 waar die Here vir Israel sê: Julle mag nie die gebruike van die nasies wat Ek voor julle gaan uitdryf, navolg nie. Ek het juis `n afsku in hulle gekry omdat hulle al hierdie dinge doen.   Israel se oorloë toe hulle die land ingeneem het,  was ook `n straf van die Here teen die afskuwelike  afgodery en praktyke van die volke in die land destyds.

Merkwaardig, later in die geskiedenis sou die rolle omdraai.  Israel die verbondsvolk van die Here sou van Hom af wegdraai en afgode begin dien en aan Hom ongehoorsaam wees. Toe sou gebeur wat die Here in Levitikus 26: 24 gesê het : Ek sal julle nog swaarder straf oor julle sondes: ek sal `n oorlog oor julle bring. Dit sal die wraak wees oor julle ontrou aan my verbond.    En Israel en Juda sou later inderdaad deur oorlog oorwin word en in ballingskap weggevoer word onderskeidelik na Assirië en Babel.   `n Oorblyfsel sou egter later weer terugkeer na die land toe.

Oorlog vandag rondom ons. Laat ons maar nederig bly in ons sienings en interpretasies van die oorloë.  Laat ons nie te gou wees in ons gevolgtrekkings oor wat die Here doen en aan wie se kant Hy is nie.  Dink maar aan die oorlog tussen  Ukraine en Rusland.  Die groot meerderheid van die bevolkings in Rusland en Ukraine is Christene wat aan die Ortodokse kerk behoort.  In die geskiedenis van die kerk het dit dikwels  gebeur dat duisende Christene mekaar in oorloë doodgemaak het , byvoorbeeld die stryd tussen protestante en katolieke.  En die oorlog in Iran. Dis eintlik drie groot godsdienste wat hier betrokke is.  Amerika is hoofsaaklik Christene , Israel hoofsaaklik Jode en Iran hoofsaaklik shia Moslems.  Maar weet ons dat daar tussen 300 en 500 duisend Christene in Iran is.

Wat ons wel duidelik weet is dat daar geen oorloë op die aarde sou wees as daar nie  `n sondeval in die paradys was nie.  Oorloë is verseker die gevolg van sonde in hierdie wêreld en in die harte van mense. Hoeveel oorloë word nie aangedryf deur magsbeheptheid, deur gierigheid en hebsug, deur  rou haat en liefdeloosheid.

En vanuit al die oorloë smag ons na `n tyd van ware vrede , `n tyd sonder oorloë, vyandskap en haat.  En die Bybel leer  ons dat daardie tyd eers  sal kom na die finale en laaste oorlog van Armageddon waar Satan en sy leërs deur God en ons Here Jesus Christus verslaan sal word.

Want daarna sal dit tyd word vir die nuwe Jerusalem , die nuwe stad van God.  En uit die beskrywing van die nuwe Jerusalem in ons voorgelese gedeelte word dit duidelik dat daar geen oorloë meer sal wees nie.

Ons hoor mos oor die lewe in die nuwe Jerusalem in Openb 21: 4: Die  dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed , smart en pyn sal daar nie meer wees nie.  Die dinge van vroeër het verbygegaan.  Dit wat so eie is aan oorlog – dood, smart, pyn,leed   – dit sal nooit meer wees in die nuwe Jerusalem. Die stad van volle vrede en vreugde. En luister wat word van die nuwe Jerusalem se poorte gesê in Openb 21: 25: Die poorte daarvan word gedurende die hele dag nooit toegesluit nie: daar sal nie meer nag wees nie .  Poorte van stede moes destyds sterk wees om vyande uit te hou wat oorlog maak teen `n stad. Die nuwe Jerusalem se poorte sal altyd oop wees, want daar sal nie meer vyandskap en nie meer oorlog wees nie. En die woorde van psalm 46 verse 9,10 sal finaal in vervulling gaan waar ons lees: Kom kyk wat die Here gedoen het, watter ontsettende dinge Hy op die aarde tot stand bring: die oorloë oor die hele aarde laat Hy ophou, pyle en boë verbreek Hy, spiese slaan Hy stukkend, oorlogswaens verbrand Hy met  vuur.

Maar baie belangrik. Hoe kom jy in die nuwe Jerusalem, hoe kry jy  deel aan die ewige heerlikheid. Hoe weet jy dat jy aan God se kant staan in die finale oorlog, en vandag al?  Jesus gee vir ons die sleutel op hierdie vrae wanneer Hy in  Openb 16:15 sê: Kyk, ek kom  onverwags soos `n dief.  Geseënd is die een wat wakker bly en sy klere reghou, sodat hy nie kaal hoef te loop en die mens sy skande sien nie.   Ons moet dus geestelik waaksaam en gereed wees , altyd , vir sy onverwagse koms  op die wolke van die hemel en altyd ons regte geestelike klere aanhê. Hierdie klere is die wit klere van sy heiligheid en sy geregtigheid wat almal wat waarlik in Hom met volharding glo , ontvang en aanhet. Dit is hulle wie se name  in die boek van die lewe staan. Amen.

Categories
Aksies en Gebeure

Somerfees 2024 – 2 November 2024

Somerfees 2024

Datum:  Saterdag 2 November 2024

Tyd: 8vm tot 15:00nm

RaaKreatief!!

Somerfees 2024 – 2 November 2024

 Die lente is al in die lug en die somer net om die draai!

 Nou is die tyd om kreatief te raak. Brei iets, hekel iets, lê iet in. Dink aan idees op ‘n stokkie. Wit olifant donasies asb.
Kom ons maak weer ons Somerfees ‘n ware fees.

 Ons gaan ook weer hande nodig hê vir pannekoek, worsbroodjies ens. Wat van ‘n poeding tafel? Enige baksters?

 Bespreek solank jou tafel, nooi solank gaste.
Eugene: 082-553-7545 of Caréna 083-618-7678

 Hou die datum oop: 2 November 2024

Stalletjies:

Worsbroodjies

Pannekoek

Koffie en tee

Kersgeskenke

Wit olifant tafel

Lekkernye

Sprinkasteel en spaletjies vir die kinders

…en vele meer…

 

Bespreek nou jou stalletjie by Caréna 083-618-7678

Categories
Aksies en Gebeure

Fees-en markdag

Applous koorfees:

Van 14 – 16 Mei verkoop ons heerlike worsbroodjies by die Applous koorfees!

Soos gewoontlik gaan ons vele hande benodig vir hierdie heerlike kuier/fondsinsameling aksie.

Gee gerus julle name op by Eugene Eagleton (082-553-7545) of Caréna (083-618-7678)

Markdag 2026: 1 Augustus 2026

Ons Herfs-en Somerfees val nou saam op ons nuwe Markdag op Saterdag 1 Augustus 2026.

Bespreek sommer vroegtydig jou stalletjie en boekmerk die datum!

Categories
Aksies en Gebeure

Bybelstudie

Daar is elke 2de Woensdag oggend Bybelstudie by die kerksaal om 10:30.

Datums is op die jaarprogram beskikbaar.

Vir meer inligting, skakel gerus Ds. Wicus op 083-476-9455

Almal is welkom!