Preek uit Markus 15: 25-39 en teksverse 33,34.
Tema: Jesus se Godverlatenheid – sodat ons nooit deur God verlaat word nie.
Geliefde broeders, susters en kinders.
Wanneer die donkerte van swaarkry ons lewenspaaie kruis, gaan daar soms die worstelvraag duur ons gemoed – Het God my dan verlaat? Ja, wanneer die ongeneeslike siekte ons pad kruis, ons onbeskryflike pyn moet verduur, wanneer ellende en armoede ons deel word en ons vir die soveelste keer ons werk verloor, wanneer ons besittings of motor in `n roof gesteel word, wanneer my man of vrou my in die huwelik verlaat, en soveel van my geliefdes sterf. Dan voel dit soms vir ons asof God ons verlaat het. Maar is dit so? Kom ons ondersoek Jesus se vierde kruiswoord om antwoorde te vind.
Ons is steeds in ons gedagtes daar by die kruis van Jesus, daardie Vrydag. Hy is die oggend om 9 uur aan die kruis vasgespyker deur die Romeinse soldate. Nou is dit al 12 uur die middag. En skielik gebeur daar iets, nogal in die skepping. Daar kom skielik duisternis, en dit oor die hele land. Hoe dit spesifiek so donker kon word, is nie vir ons presies duidelik nie. Lukas noem dit in sy evangelie `n sonsverduistering. Nietemin, dit was `n ingryping van God. En die duisternis het drie ure lank geduur, tot drie-uur daardie middag.
En aan die einde van die duisternis. Skielik `n uitroep van Jesus. Hy het met `n harde en luide stem woorde uitgeroep. Met `n kreet vanuit sy diepste belewing van angs het Hy hard gesê: Eloi, Eloi, lema sabagtani. Hy gebruik sy moedertaal vir hierdie woorde, Aramees. Aramees was `n dialek van Hebreeus wat destyds algemeen onder die Jode gebruik is. Markus vertaal die betekenis vir sy lesers na Grieks toe . En in Afrikaans lui Jesus se vierde kruiswoorde soos volg: My God, my God, waarom het U My verlaat?
Tydens Jesus se lewe op aarde het Hy dikwels beleef hoe mense Hom verlaat het. Op `n stadium volgens Johannes 6 het Hy `n groot aantal volgelinge of dissipels gehad en dan word sy woorde vir hulle te erg en dan lees ons in Joh. 6: 66 : “Hieroor het baie van sy dissipels omgedraai huis toe en nie meer saam met Hom gegaan nie.” En nie lank gelede was dit een van sy binnekring dissipels, Judas Iskariot, wat Hom verlaat het en Hom verraai het met sy gevangeneming.
Tog het Hy in sy lewe steeds die nabyheid van sy Vader beleef. Ons hoor hieroor wat Hy in Joh. 8:29 sê: Hy wat My gestuur het, is by My. Hy het My nie alleen gelaat nie, omdat Ek altyd doen wat Hy wil. Dikwels in sy lewe het Hy dan ook tot sy Vader gebid. Ook nie lank gelede in die tuin van Getsemane het Hy tot sy Vader gebid en selfs vroeër hier aan die kruis tydens sy eerste kruiswoorde het Hy met sy Vader gepraat en gesê: Vader, vergeef hulle , want hulle weet nie wat hulle doen nie.
Maar dan breek die drie ure van duisternis aan om 12 die middag. En dis asof die Vader agter die donkerte wegskuif. Ja, Jesus beleef – Hy is ook deur sy Vader verlaat. Die woord kan ook beteken dat Hy laat vaar is, opgegee is , versaak is. Hier in die donkerte van die duisternis ervaar Jesus nie meer die nabyheid, die liefde die sorg en vriendelike teenwoordigheid van sy Vader nie.
Hier het Hy te doen met God alleen. Die almagtige en regverdige God wat nou as regter optree. God wat as Regter optree en die ewige straf oor die sonde van die mens nou op Hom laat afkom. In die duisternis omhul tref die toorn en oordeel van God oor die sondes van die hele menslike geslag Hom, ook oor ons sondes. Dit wat ons deur ons sondes verdien het, tref vir Jesus aan die kruis – God se toorn en oordeel.
Ja, inderdaad die volle smart, die volle angs, die volle vrees en verskrikking van die hel word sy deel. Jesus van God verlate! Dis mos die hel – om van God verlate te wees. Sonder die liefdevolle nabyheid van die Vader. Dis die dieptepunt van Jesus se lyding wat Hy daar tydens die drie ure duisternis beleef het. Die lyding van die hel het Hy daar ondergaan , soos ons dit elke Sondag in die twaalf artikels bely. Die hel is mos waar alle bande gebroke is. Bande tussen mens en mens, bande tussen God en mens.
Dis wat Jesus in werklikheid en absoluut deurgegaan het in die duisternis daardie Vrydag aan die kruis. Geskei van sy Vader. Verlate van God in die volste sin van die woord. En so gebruik Jesus in sy harde smartkreet die woorde van psalm 22: 2 waar Dawid uitgeroep het – My God, my God, waarom het U my verlaat. Hierdie woorde kom tot volle belewing en vervulling wanneer Jesus dit hier uitroep.
Dis nie woorde om God tot verantwoording te roep en te verklaar wat Hy hier doen nie. Dis nie woorde van ongeloof of opstand nie of woorde wat aandui dat Hy nie bereid is om te sterf nie. Dis sy uitroepe van die diepste angs, pyn en lyding. Sy angskreet van verlatenheid.
En alhoewel Jesus nie sy Vader se nabyheid beleef nie, hou Hy nog in geloof vas aan God met die woorde wat Hy twee maal herhaal – My God, my God…Dis net hier in die Bybel wat Jesus sy Vader so aanspreek – my God.
En die duisternis in die skepping dra ook die boodskap oor van God se toorn en oordeel wat sy Seun hier tref. In die Bybel sien ons dikwels `n naby verhouding tussen wat met Jesus gebeur en wat in die skepping plaasvind. Reeds by sy geboorte gebeur daar iets in die skepping. `n Ster het beweeg en bo sy geboorteplek gaan staan.
En hier met sy sterwe, tydens die dieptepunt van sy lyding aan die kruis, sy Godverlatenheid, praat die skepping ook saam. Die skepping druk tydens die drie ure duisternis uit wat die Lig van die wêreld hier aan die kruis beleef – straf, oordeel, die smart van die hel.
God se teenwoordigheid word in die Bybel dikwels met lig uitgebeeld. So sing ons in psalm 97: Gods vriendelike aangesig straal vrolikheid en lig. In die hemel is sy ewige skitterende lig.
En so is duisternis in die Skrif aan die ander kant dikwels teken en simbool van God se oordeel en straf. Jesus het dikwels in sy gelykenisse en onderrig na die ewige verdoemenis en hel as die diepste duisternis verwys. En ons lees in Amos 8:9 oor God se dag van oordeel die volgende: Daardie dag , sê die Here my God, laat Ek die son helder oordag ondergaan, maak Ek dit donker op aarde terwyl dit nog ligdag is.
Ja, toe Jesus deur God se oordeel en straf getref word, Hy deur die hel van Godverlatenheid, smart en verskrikking gaan, toe word dit donker in die skepping en word die diepste duisternis sy deel. Gaan Hy deur die diepste geestelike en fisiese lyding en eensaamheid. Nooit sal ons dit ten volle kan peil en begryp nie. Ons gedagtes is net te klein daarvoor.
En die doel van sy Godverlatenheid was juis om mense te red uit die diepste duisternis van sonde en die oordeel wat wag op sonde. As die eerste mensepaar nie die sonde gekies het en God so verlaat het nie, sou dit nooit nodig gewees het dat Jesus die oordeel van God en Godverlatenheid aan die kruis deurgegaan het nie.
En nou die heerlike gevolg van Jesus se bereidheid hiertoe. Elkeen wat in Hom glo word nooit deur God verlaat nie. As dit soms vir ons as gelowiges so voel dat God ons verlaat het, moet ons hierdie gevoelens in geloof weerstaan. En ons moet vashou aan die Woord van die Here en sy beloftes.
God het sy Seun verlaat aan die kruis toe Hy uitgeroep het – My God, my God , waarom het U My verlaat – sodat ons nooit meer deur God verlaat sou word nie. Dis die woorde wat ons in die formulier hoor elke keer as ons nagmaal vier.
Wanneer ons glo dat God sy Seun in ons plek verlaat het, kan ons met blydskap en sekerheid die woorde hoor wat die Here dikwels in die Skrif vir sy kinders sê – Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie. (Heb. 13:5)
Wanneer mense en vriende ons verlaat en van ons skei , selfs die naaste mense aan ons en dit vir ons voel asof God ons ook verlaat het, kan ons met blye harte uitroep die woorde in psalm 27: 10: Al sou my vader en my moeder my verlaat, die Here sal my onder sy sorg neem.
Wanneer die donker tye van eensaamheid, kroniese siekte en pyn, depressie en moedeloosheid, finansiële druk en werkloosheid, armoede en stryd my deel word en dit vir my voel asof God my verlaat het en ek die woorde in psalm 102: 7 wil uitroep – Ek voel so verlate soos `n pelikaan in `n woestyn, soos `n uil tussen murasies. Dan moet ek in geloof vashou daaraan dat God vir Jesus daardie Vrydag aan die kruis in my plek verlaat het om my nooit ooit te verlaat as sy kind. Hy is altyd by my.
Selfs wanneer vervolging oor my pad kom kan ek nogtans vashou aan my Vader se nabyheid en soos Paulus sê in 2 Kor. 4: 9 : Ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie.
En wanneer eendag die dood oor my pad kom en ek besef dat my aardse tyd verby is, dan kan ek nogtans as gelowige die dood met hoop tegemoet gaan, en vashou aan die waarheid dat God sy kinders ook nie in die dood verlaat nie, maar steeds in liefde by hulle is en hulle vir ewig in sy Vaderhande vashou.
Ja, in die besef van my naderende dood kan ek saam met Paulus met vreugde uitroep in Rom 8:38,39: Hiervan is ek oortuig: Geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.
Dit alles is die blye troos van Jesus se vierde kruiswoorde: My God, my God, waarom het U My verlaat? Amen
