Opheffingsprogram studente en vrywilligers
OPHEFFINGS PROGRAM
“Hoe kan hulle Hom dan aanroep, as hulle nie tot geloof in Hom gekom het nie? En hoe kan hulle in iemand glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder iemand wat dit verkondig?” Rom 10:14.
By ons kerkgebou in GK Silverton is daar deesdae ‘n gerumoer van mense wat leer.
Ons Opheffingsprogram loop nou ‘n jaar by die kerk en dit gaan steeds beter. Hier moet ons net alle eer gee aan die Here wat hierdie program bestuur.
Ons hoofdoel is om mense bymekaar te kry aan wie ons die Woord van God en die Blye boodskap van Jesus Christus kan bring. Ons voel werklik geseënd om ‘n klein deeltjie te mag doen in die Koninkrykswerk.
Ons het ‘n pragtige groep mense bymekaar, waar die liefde van Jesus uitstraal!
Ons naaldwerk program vorder goed, met ‘n beginnersgroep maar ook gevorderdes wat al klere leer maak. Ons kookprogram leer mense kosmaak, enersyds om dalk as huishulp makliker werk te vind of andersinds dalk hul eie besigheid te kan begin. Hierdie program is baie gewild onder die jonger vroue.
Die brei/hekel program wat hierdie kwartaal begin het, vorder maar stadig, maar elke week is daar ‘n nuwe gesig wat bykom.
Ons beplan ook nou Groentetuin opleiding! Die groepsleier hiervan sal DV volgende kwartaal begin word.
Ons hooftaak is egter om Bybelstudie te hou. Hiervoor bestudeer ons ‘n paar verse in klein groepies van 4 tot 5 mense.
Die terugvoering en lewens wat verander word is sigbaar in ons studente, maar wat ons nooit verwag het nie, ook in ons as groepleiers!
Een keer behandel ons Johannes 10 : 1- 11. Een vrou het besef dat Jesus ook háár persoonlike Herder is, en nie net vir almal globaal soos sy dit altyd verstaan het nie!
Hier is ‘n paar boodskappe wat ons van studente ontvang het:
“Om deel te wees van jul Bybelstudie het my laat weet dat ek dit kan doen. Ek het in die kerk grootgeword, maar ek het nooit enige doel van kerk bywoon gevoel nie. Ek gaan maar net want ons móét gaan. Maar nou het ek by die Bybelstudie saam met julle en ons lieflike groep dames aangesluit. Ek wil graag vir julle dankie sê. Vandag kan ek die Bybel lees, ek kan die groep lei, ek kan luister en die Bybel baie beter verstaan, ek kan sit en geniet om in die Bybelklas te wees. Nou raak ek so opgewonde om na ander te luister en opgewonde om vir hulle te bid. Baie dankie vir julle.”
2) “Ek wil graag noem dat ons so baie geestelik gegroei het in geloof, vandat ons met die Bybelstudies begin het.“
3) “Ek weet nie eers hoe om God te dank vir al die seëninge nie! Ek voel of ek Hom sien met my oë en Sy hand vashou en ek wil Hom vertel van al Sy wonderwerke. Ek sal vir altyd dankbaar wees teenoor julle instrukteurs wat my die Koninkryk van God laat sien het in ons lewens.”
4)” Ek het vandag die genade van God in ons klas so geniet! Julle moeite sal vir ewig in my lewe onthou word.”
Twee van ons studente het ontdek dat twee ander studente bitter min weet van die geloof en van God. Hulle het op hul eie voorgeneem om op ‘n gereelde basis met die twee nuwe Christene te vergader en Bybelstudie met hulle te doen.
Hierdie maak ons so vreeslik opgewonde. As jy geroepe voel om by ons aan te sluit, kontak asb ons sekretaresse. Mense hoef nie noodwendig aan ons gemeente of kerk verband te behoort nie.
Dankie vir almal se gebede. Hou asb aan vir ons instrukteurs en die studente te bid. Sonder Hom, is ons arbeid verniet!!
Mag ons almal dievolgende bid: Ps 119: 27 “Leer my hoe om U bevele uit te voer. Ek wil van U magtige dade vertel.”
GOD IS GROOT!!
Deur Pauline vd Walt
