Categories
Preke

Preek – Sondag 12 Januarie 2025 – Tema: Kom ons oordink ons lewens en groei in gehoorsaamheid.

Preek met Skrifgedeelte psalm 119: 1-9,57-72 en teksvers 59.

Tema: Kom ons oordink ons lewens en groei in gehoorsaamheid.

Geliefde broeders, susters en kinders

Wanneer ons `n nuwe jaar ingaan beplan ons dikwels dinge vir die jaar en dink daaroor. Ons dink oor dinge wat in die werk op ons wag, of ons beplan `n reis of vakansie later in die jaar. Ons kinders dink oor die nuwe skooljaar en oor watter aktiwiteite en sport julle vanjaar gaan deelneem.

Psalm 119 en veral ons teksvers stel ons vanoggend voor `n vraag – Dink ons ook oor onsself en ons verhouding met die Here. Dink ons oor ons geloofslewe en ons gehoorsaamheid aan God.   Ja deur sy Woord roep die Here ons vanoggend op om opnuut ons lewens te oordink en te groei in ons gehoorsaanheid aan Hom. En daar is seker nie `n beter tyd om opnuut oor onsself en ons verhouding met die Here na te dink as juis so aan die begin van `n nuwe jaar nie.

Psalm 119 is die langste psalm in die Bybel. Dis ook die langste gebed wat ons in die Bybel aantref. Vanaf vers 4 tot 176 is een lang gebed.  Die digter se naam is onbekend.  Uit die psalm blyk dat hy `n diep gelowige mens was wat groot erns met God en sy Woord gemaak het.

Uit die psalm blyk verder dat sy huidige omstandighede maar moeilik en swaar was. Ander mense het die lewe vir hom  bitter gemaak. In die psalm sien ons dat hy in doodsgevaar was. Mense het hom gespot en hom vals beskuldig van dinge. Sonder rede het hulle hom vervolg. Sy vyande het hom teengestaan.

Die Here het egter hierdie swaarkry in sy lewe ten goede gebruik om hom te vorm. Hy getuig in ons voorgelese gedeelte, vers 67 – Voordat ek swaargekry het, het ek gedwaal, maar nou hou ek my aan u woord.

Die woorde in ons teksvers moet ons ook binne hierdie konteks verstaan. Dis ook vanweë sy lyding en swaarkry  wat hy in gebed vir die Here sê: Ek het die koers van my lewe oordink en na u verordeninge teruggekeer.

Dis woorde van toewyding aan die Here, woorde waarin hy vir die Here sê wat hy in sy lewe gedoen het , ook ten opsigte van die opdragte van die Here.  Hy praat openhartig en eerlik met God.

Hy is ook eerlik met homself en het die koers van sy lewe oordink.  Die woord oordink dui op diepe nadenke en oorweging, om aan iets aandag te gee en deeglik daarop te let.  Wat het hy so vol aandag oordink? Die koers van sy lewe. Heel letterlik staan daar in die Hebreeus – my paaie.  Die Hebreeuse woord kan letterlik op `n pad of weg dui waarop mense of diere geloop het.  Dit kon ook dui op iemand se reis soos Jakob se reis na Josef in Egipte. Dit dui ook , soos in ons teksvers , op iemand se gewoontes, sy optrede en gedrag, sy sienswyse en lewenswyse, vandaar die vertaling – die koers van my lewe.

Dit is soms vir mense, ook gelowiges soos ons, baie moeilik om oor hulleself en hulle lewens na te dink. Hoe hulle dink en wat hulle sê en doen is dinge waaroor baie mense nie wil nadink nie. Hulle is te bang om daar te gaan.  Bang vir wat hulle dalk in hulle harte en in hulle lewens sal raaksien.

Nee, laat ons met moed diep nadink oor onsself en ons lewens so aan die begin van die nuwe jaar. Dit vra eerlikheid met onsself, om nie onsself te probeer bluf nie. Dit vra nederigheid om so eerlik oor jouself na  te dink, want jy moet bereid wees om die goeie en die minder goeie dinge in jou lewe raak te sien en te erken.

Die digter van psalm 119 het verseker mooi dinge maar ook minder mooi dinge in sy lewe raakgesien. Soos ons netnou aangetoon het , het hy in vers 67 erken dat hy gedwaal het voordat hy swaargekry het.

Hy het afgedwaal van die woord van die Here en die voorskrifte en gebooie van die Here.  Hy het op afdraaipaaie beland waar hyself die sê gehad het oor sy lewe, sy woorde en optrede.

Eerlike , nederige selfondersoek sal ons ook by dinge in ons lewens bring waar ons oor hartseer is, dinge waaroor ons moet erken dat ons daar afgedwaal het van die Here se opdragte aan ons, sondes wat ons nederig vir onsself moet erken en voor God bely. Dinge waaroor ons tot die Here moet bid soos die digter van ons psalm in vers 132 bid: Sien my in genade aan soos U altyd doen vir dié wat uNaam liefhet.

Maar volgens ons teksvers het hy nie stilgestaan in sy selfondersoek by die verkeerde dinge wat hy in sy lewe ontdek het nie.  Kyk mooi wat sê hy: Ek het die koers van my lewe oordink en na u verordeninge teruggekeer.

Sy selfondersoek het hom tot besluite en aksie gebring. Om terug te keer na die verordeninge van die Here.  Letterlik kan ons hierdie woord terugkeer uit die Hebreeuse taal met terugdraai vertaal. Dit dui op beweging, `n draaibeweging. Dieselfde Hebreeuse woord word in die Bybel dikwels met bekeer vertaal.

Sy selfondersoek het meegebring dat hy iets gedoen het. Hy het teruggedraai na die verordeninge van die Here in sy lewe.  Waar hy vroeër daarvan afgedwaal het en weggedraai het daarvan, het hy nou  teruggedraai na God se verordeninge vir sy lewe.

Die verordeninge van die Here waarna hy teruggedraai het, dui op die Here se aansporings, sy bepalings, sy vermanings, sy wette en dringende versoeke.  Dit het die volk in die tyd van ons psalm veral in die tora gevind, die eerste vyf boeke van Moses in die Ou Testament. Daar was nog geen Bybel soos ons dit vandag het nie.

Hoe bevoorreg is ons nie vandag nie, dat ons die ganse heilige Skrif, die Woord van God het, ou en nuwe testamente, 66 boeke waarin ons God se onderrig aan ons kan vind, kan hoor wat Hy van ons verwag in ons lewens.  Kan leer van sy genade en sy liefde oor sy kinders en sy beloftes vir die wat van harte in Hom glo.

Die digter van ons psalm het in sy lewe na sy selfondersoek teruggedraai , teruggekeer na die verordeninge, die opdragte van die Here aan hom , in sy lewe.  Mag dit ook ons elkeen,  of ons nou jonk is of ouer is, se voorneme opnuut wees op hierdie tweede Sondag van die nuwe jaar 2025 – ek wil opnuut terugdraai na die verordeninge van die Here.  Ek wil wegdraai van verkeerde dinge in my lewe en terugdraai na wat God van my verwag as sy kind.

Waarom wil ek dit doen?  Waarom wilek `n lewe van groeiende gehoorsaamheid aan die Here leef?  Nie om so die ewige lewe te probeer verdien nie.  Dan sal ek dit nooit bereik nie, want niemand wat leef is volkome gehoorsaam aan God se heilige eise nie.  Ek wil so in gehoorsaamheid aan die Here lewe, omdat Hy my liefhet, omdat Hy my in genade aangeneem het as sy kind deur die geloof in sy volmaakte Seun, Jesus Christus.

Jesus het in sy hele lewe nooit nodig gehad om die gebed in ons teksvers te bid nie – ek het teruggedraai na u verordeninge.  Hy was immers volmaak gehoorsaam in alles aan die wil van sy Vader en het nooit afgedwaal van die opdragte van sy Vader nie. Selfs toe Hy die swaarste lyding voor hom gesien het, was Hy steeds bereid om dit in te gaan as dit die wil van sy Vader was. En Hy was gehoorsaam tot in die dood aan die kruis. So het hy vir al ons ongehoorsaamheid, afdwalings en sondes betaal en elkeen wat in Hom glo is `n kind van die lewende God.

Omdat ons die Here wil loof en prys en dank vir sy genade en sy liefde wil ons graag aan sy opdragte gehoor gee in ons lewens.  Dikwels verwys die digter in psalm 119 , ook in ons voorgelese gedeelte, na die troue liefde van die Here.  Ons gehoorsaamheid is soos lewende dankoffers wat ons aan Hom bring vir sy troue liefde.

Ons wil ook aan hom gehoorsaam wees  omdat ons Hom liefhet en daarom wil doen wat Hom behaag en sy Vaderhart verbly. Die digter van psalm 119 se liefde en eerbied vir die Here straal uit die hele psalm.  Vol liefde en nabyheid sê hy vir die Here in vers 26: Ek het my lewensloop aan U bekend gemaak.  En in vers 55: Selfs in die nag dink ek aan U, Here.

Jesus het mos ook so duidelik gesê in Joh. 14: 15: As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer.  Opregte hartsliefde vir die Here moet ons inspireer en aanmoedig om die opdragte van die Here in ons lewens te gehoorsaam.

Waar vind ons hierdie verordeninge en opdragte van die Here aan ons. Die antwoord is eenvoudig. In die Woord, die Bybel. Om die opdragte van God aan ons vandag in die Bybel te verstaan is egter nie so eenvoudig nie. Talle opdragte, veral in die Ou Testament, bv rondom die offers wat geslag moes word, wat as rein en onrein kos beskou is en talle meer, moet ons vandag nie meer net so uitvoer nie. Om God se opdragte aan ons vandag uit die Woord reg te verstaan, het ons die leiding van die Heilige Gees nodig. Slegs die Heilige Gees kan aan ons insig, wysheid en begrip gee van God se opdragte in sy Woord sodat ons weet hoe ons vandag aan God se opdragte gehoorsaam moet wees. So dikwels hoor ons dan ook die digter van psalm 119 tot God bid dat Hy tog aan Hom insig moet gee in sy gebooie en opdragte.

God se opdragte aan ons in ons lewens word negatief en positief gestel.  Negatief gaan oor die dinge waarvan ons moet wegdraai in ons lewens. Dis die sondige en verkeerde.  Dis die opdragte wat lui- jy mag nie of- jy moet nie.  In die beeld van `n pad waarop ons ry is dit die dinge waar daardie groot ronde rooi bord staan met die wit horisontale streep in die middel. Moenie hier ry nie. Dis die dinge wat Satan so graag wil hê ons moet doen. Kom ons dink net aan `n paar sulke dinge , ook waarvan ons net nou in Koll. 3 gelees het.  Ons moenie onsedelik en wellustig wees, gierig wees. Woede, haat , jaloesie , gevloek, vuil taal, leuens, dronkenskap, bedrog, oneerlikheid, diefstal, bitterheid teenoor die wat ons kwaad aangedoen het,  is onder meer die dinge waarvan ons moet wegbly in ons lewens.  By hierdie en talle ander sondes hoor ons die Here sê , bly weg hiervan , jy as my kind.

En dan die positiewe dinge wat ons moet najaag, die mooi dinge wat ons soos mooi klere moet aantrek in ons lewens as kinders van die Here. Die verordeninge van die Here soos om hom lief te hê met ons hele hart, siel, verstand en al ons kragte. Om ons naaste lief te hê soos onsself, om ons vyande lief te hê soos Jesus ons beveel het en vir ons die voorbeeld gestel het. Om die waarheid te praat, om meelewend te wees, geduldig en verdraagsaam te wees, om ander te vergewe, om in vrede met ander te lewe , om goedhartig, nederig en getrou te wees, jou woord te hou en te doen wat jy sê, om vriendelik te wees. Nog talle meer. Dis waar ons om die beeld van `n pad te gebruik, die geel pyltjies sien.  So moet jy ry. Dit is die pad wat die Here wil hê jy op moet loop in jou lewe. Dis die pad waarheen ons elke oomblik op ons lewensreis moet draai. Ook ons jongmense en ons kinders.  Hou julle aan die Here se opdragte, doen wat Hy van julle verwag, en julle lewens sal skoon en mooi wees.

Hoe meer ons groei in gehoorsaamheid aan die Here se opdragte, hoe meer sal ons sy beeld vertoon en die beeld van sy Seun.  Die Heilige Gees is ten diepste die bewerker van hierdie nuwe lewe, maar ons moenie die Heilige Gees se werk weerstaan of Hom bedroef soos ons in die Skrif hoor nie. Laat ons ook met volle verantwoordelikheid hierdie nuwe lewe najaag en doen wat die Here  van ons verwag.

Dan mag die wonder net gebeur dat ons voorbeeld van gehoorsaamheid en ons mooi lewens wat soos lig rondom ons skyn, ander aanraak in hulle harte. En dat hulle ook deel wil wees van God se koninkryk waar die burgers hulleself gereeld ondersoek en oor hulleself nadink en altyd weer vol vreugde en gewilligheid terugdraai na God se opdragte vir hulle in hulle lewens. Soos Jesus gesê het in Matt. 5:16:  Laat julle lig so voor die mense skyn dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is , verheerlik. Ja, kom ons besluit elkeen opnuut in die lig van die Here se woord vanoggend om ons lewens te oordink en om opnuut te groei in ons gehoorsaamheid aan Hom. Amen.