Woensdag 20 Augustus 2025.
Vooraf:
Grietjie Wijburg is nog in 1 Mil. Hospitaal waar sy behandeling ontvang vir vog op haar longe. Ons bid dat die Here spoedig beterskap sal gee.
Hardus Booyens is weer tuis na behandeling in die Sungardens Hospice. Ons dank die Here vir die beterskap en mag Hy moed en krag vir elke dag gee.
Ons Woensdagboodskap kom vanoggend uit Psalm 27. Lees gerus die psalm deur en ons kernvers is vers 14: Vertrou op die Here! Wees sterk en hou goeie moed! Ja, vertrou op die Here!
Het jy moed vir die dag wat voor jou lê? As ons eerlik is, sal ons erken dat ons nie altyd `n nuwe dag met baie moed ingaan nie. Soms voel ons ook maar moedeloos as ons dink aan alles wat ons moet doen en baie dinge wat dalk tans moeilik en swaar is in ons lewens.
Selfs Dawid die skrywer van ons psalm , die groot en magtige koning van Israel, het ook soms moedeloos geword. In psalms 142 en 143 se vierde verse roep hy uit: Ek het alle moed verloor. Baie dinge in ons lewens kan ons soms ook maar moedeloos laat voel. Wat dan?
Laat ons in tye van moedeloosheid voluit op die Here vertrou! Dis die oproep van psalm 27 en ook ons kernvers. Vertrou op die Here! Vertroue op die Here beteken onder meer om met Hom in ons gebede te praat. Om alles wat jou pla, alles wat jou moedeloos laat voel, ook vanoggend, met Hom te deel en dit as`t ware vir Hom aan te gee in gebed. Vir die Here kan ons alles vertel, Hy is ons Vader wat in liefde na ons gebede luister en vir ons wil help.
Vertroue op die Here beteken ook om oor Hom en sy vermoëns te dink. Dis juis omdat Hy die Een is wat Hy is, dat ons op Hom kan en wil vertrou. Psalm 27 herinner ons aan sy goedheid en sy getrouheid. Hy is ook ons beskermer wat ons beskerm teen fisiese en geestelike gevare.
Dink ook aan jou persoonlike verlede en hoe die Here in die verlede al telkens tot jou hulp gekom het en op wonderbaarlike maniere dinge in jou lewe beskik het, sodat jy op hierdie oomblikke saam met Dawid wil uitroep: U was nog altyd my hulp.
Word rustig, praat met die grote God oor dit wat jou vanoggend kragteloos en moedeloos laat voel en dink aan wie Hy is – Jou Vader deur die geloof in Jesus Christus. En mag die Heilige Gees vir jou sommer nuwe moed en krag gee vir vandag.
Gebed.
Ons hemelse Vader, elkeen van ons voel soms maar moedeloos in ons lewens. Dankie dat ons daardie dinge met U kan deel en ons harte voor U kan uitstort. Dankie dat ons U kan ken as ons troue Vader wat nog altyd vir ons gesorg het en ons gehelp het.
Wees ook vanoggend by ons elkeen en werk kragtig deur U Heilige Gees in ons sodat ons hierdie dag en die res van die week met nuwe moed kan ingaan. Ons bid dit om Jesus ontwil . Amen.