Categories
Inspirasie

Inspirasie vir die dag

Woensdag  8 April 2026.

Vooraf:

Ons oordink graag vanoggend psalm 91 in ons Woensdagboodskap. Lees gerus hierdie bekende psalm weer deur. Ons kernvers uit die psalm is verse 14,15a : Omdat hy My liefhet, sal Ek hom red, sê die Here, omdat hy My ken, sal Ek hom beskerm.
Wanneer hy My aanroep, sal ek sy gebed verhoor.

Ons leef nie in `n land wat deur oorlog bedreig word nie. Tog beteken dit nie dat ons  net veilig is nie. Misdaad is `n groot bedreiging vir ons almal se lewens. Elke dag word daar tussen 60 en 70 mense in ons land vermoor. Talle meer vroue  word verkrag, mense en kinders word ontvoer en lospryse geëis, gewapende rowe vind algemeen plaas en baie meer.  Dikwels dink ons oor die vraag. Hoe kan ek my en my gesin teen dit alles  beskerm.  Psalm 91 laat ons vanoggend weer dieper dink oor hierdie vraag.

Hierdie psalm van `n onbekende digter fokus ons aandag op die Here die allerhoogste God as ons beskermer.  In hierdie psalm word ons opgeroep om op Hom te vertrou vir ons beskerming.  Ons moet by Hom skuil, na Hom vlug vir beskerming, ons hulp van Hom verwag. Dit alles mond uit in ons gebede waarin ons vol geloof Hom nader en Hom nederig aanroep om ons te beskerm.

Ons gebede om beskerming moet egter voortkom uit harte met `n bepaalde gesindheid teenoor Hom.  In ons harte moet liefde vir die Here wees, dis mos die eerste en belangrikste opdrag aan ons.  In ons kernvers sê die Here so duidelik: Omdat hy My liefhet, sal Ek hom red.

Uit harte wat Hom ken en liefhet en op Hom vertrou, moet ons die Here vra vir beskerming van ons lewens te midde van al die bedreigings van misdaad, siekte en so meer wat ons elke dag teekom.

Daar is egter ook `n ander vyand en mag wat ons lewens bedreig waaroor in die Skrif gehandel word. Dis die geestelike aanslag teen ons, gelei deur die brullende leeu, Satan, wat rondgaan om te verslind. Hy wil so graag hê dat ons uitval uit die goeie wedloop van die geloof. Hy wil so graag hê dat ons die geloof in Christus ons Here en Verlosser prysgee en in sy kraal tuiskom.

Ook teen hom het  ons beskerming nodig .  Jesus self het ons mos leer bid in die Onse Vader:  laat ons  nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Slegs deur die krag van die Here in ons bewerk deur die Heilige Gees sal ons staande bly teen Satan se aanslae teen ons en op ons pos bly deur in geloof te volhard tot die einde van ons lewens.  Ja , kom ons dink weer opnuut vanoggend oor die Here as ons Beskermer, beskermer teen die fisiese gevare wat ons lewens elke dag bedreig, beskermer teen die geestelike gevare wat ons geloof en ewige lewe elke dag bedreig. En kom ons bid tot Hom om beskerming uit harte vol ware geloof en liefde.

Gebed.  

Ons Vader wat in die hemel is, hoe heerlik is U Naam oor die ganse aarde.
Alles in die skepping getuig van U mag en heerlikheid en dat U die Allerhoogste is wat oor alles regeer.  Ons kom vanoggend met harte vol liefde en geloof na U toe en vra U nederig om beskerming. Beskerm ons lewens teen misdadigers en siektes. Beskerm ons teen die aanslae van Satan teen ons geloof. Werk kragtig deur U Heilige Gees in ons sodat ons vas sal bly staan ondanks die listige aanslae van die Bose.

Ons bid vir al die kinders in ons gemeente wat vandag weer skool toe gaan na die vakansie.   Wees by hulle almal. Gee dat hulle vrede in hulle harte sal hê en alles wat hulle doen en aanpak sal doen asof  hulle dit vir U self doen.  Wees by elke kind elke dag in die skool, beskerm en bewaar hulle in U troue liefde.  Ons bid dit alles net uit genade en om Jesus ontwil. Amen.