Woensdag 15 April 2026.
Vooraf:
Ons oordink graag vanoggend psalm 92 in ons Woensdagboodskap. Lees gerus die psalm deur. Ons kernvers uit die psalm is vers 11 : Maar vir my gee U krag soos die van `n buffel. U laat my `n oorwinningsfees vier.
Hierdie wonderlike psalm laat ons diep dink vanoggend oor ons lewe en die krag wat ons nodig het daarvoor. Die digter handel in verse 8 tot 10 oor die goddelose mense wat skynbaar so voorspoedig is. Tog sal hulle uiteindelik getref word deur die toorn van God.
Met hom gaan dit in teenstelling met die goddeloses egter anders. Hy sê vir die Here hieroor in vers 11: Maar vir my gee U krag soos die van `n buffel. U laat my `n oorwinningsfees vier. Letterlik vertaal sê hy: Maar U het my horings hoog gelig soos die van `n buffel. Dis `n beeld wat dui op die krag wat die Here aan hom gegee het en wat vergelyk word met `n sterk dier soos `n buffel.
Vir my gee U krag. Hoe lyk die digter in teenstelling met die goddeloses? Ons leer hom ken uit die eerste verse van die psalm as iemand wat `n naby verhouding met die Here gehad het. In gebed het Hy God geloof en gedank vir sy liefde en sy getrouheid. In nederigheid was hy bewus van God se groot dade en gedagtes . Oor God se groot dade was hy vol vreugde en blydskap.
En hierdie gelowige het geweet. God is die bron van sy krag. Ook vanoggend is hierdie waarhede vir ons weer tot bemoediging en vertroosting. Vir elke dag en alles wat ons elke dag moet doen en wil doen het ons krag nodig. En ons vind ons krag by die Here en in sy groot vermoë.
Die krag wat ons nodig het is veral van tweërlei aard. Ons het liggaamlike krag nodig om al ons verpligtinge te kan uitvoer. Ons het ook geesteskrag nodig vir ons lewens as burgers in God se koninkryk. Laat ons die Here opsoek vir albei hierdie fasette van die krag wat ons vandag nodig het.
Mag sy Heilige Gees ons versterk en dra en krag en moed en wysheid gee sodat ons vandag ons verantwoordelikhede sal kan uitvoer tot sy eer en verheerliking met die krag wat Hy vir ons gee. Laat ons naby Hom leef , sy grootheid, werke, liefde en trou erken en bely. Dan sal Hy ons seën met krag van Bo vir ons dagtaak en ons lewens in sy koninkryk. En eendag wanneer ons liggaamskragte deur die dood beëindig word, sal ons tog met hoop kan sterwe en met `n uitsig op die lewe in sy teenwoordigheid, omdat selfs die dood ons nie kan skei van sy liefde en sy trou nie.
Gebed.
Ons hemelse God en Vader. Ons word klein en nederig voor U wanneer ons dink aan U werke en dade as God, U liefde en U trou. U is die Allerhoogste wat vol krag en majesteit oor U hele skepping en oor ons lewens regeer.
Ons kom in diep nederigheid vanoggend voor U wanneer ons pleit vir krag vir vandag en elke dag. Gee aan ons liggaamskrag en gesondheid sodat ons kan doen wat U vandag van ons verwag. Gee aan ons geesteskrag deur die werking van U Heilige Gees sodat ons met krag en selfbeheersing vandag kan lewe as U kinders volgens U wil tot eer van U Naam. Ons bid dit net uit genade alleen. Amen.