Categories
Nuusbrief

Nuusbrief – Sondag 19 April 2026

13Die regverdiges sal sterk wees soos palmbome, soos hoë seders op die Libanon. 14Hulle vind hulle krag in die huis van die Here en groei op in die tempel van ons God. 15Selfs in hulle ouderdom sal hulle nog toeneem in krag. Hulle sal fris en lewenskragtig wees. 16So sal blyk dat die Here regverdig is, dat daar by Hom geen onreg is nie. Hy is my rots. Ps 92:13-16

 

Verwelkomingswoorde.

Dit is vir ons `n vreugde om vanoggend in ons erediens hier saam te kan wees. Mag die Here ons lei deur sy Heilige Gees sodat ons elkeen Hom waarlik sal ontmoet en met opregte harte sal dien en eer.  Mag ons dit wat ons vanoggend leer saamneem en uitleef in ons lewens elke dag. En kom ons gaan dra die Here se boodskap ook uit na ander wat Hom nie ken nie of van Hom wegbeweeg het.  Baie welkom aan almal – lidmate, kinders en besoekers.  

Ontmoetingsdeel:

Sang: Lied 175

Votum: Ps 92: 13-16 (in Bybel)

Groetseën

Sang:Ps 42: 1,3,5 (1936, p 214)

Apostoliese Geloofsbelydenis

Sang: Sk 1-2: 1,2,3

 

Verootmoediging- en versoeningsdeel.  

Die Here se opdragte:Eksodus 20 – tien gebooie
Versoening:Hand 16: 30,31

Sang:Ps 25: 4,5(1936, 116)

 

Woordgedeelte: 

Gebed

Sang:Ps 119: 7(1936, p 587, tweede melodie)

Skriflesing: Romeine 10:5-13, Romeine 11:33- 12:2

Teksvers:Romeine 12:1,2

Prediking met tema: Ons word opgeroep om lewende offers te wees tot eer van God!

 

Antwoordgedeelte:

Sang: Lied 308: 1,2,3,5

Gebed

Slotsang:Lied 276:1,2
Wegstuurseën

Sang(amen): Sk 13-2

 

Tema van die preek:

Ons word opgeroep om lewende offers te wees tot eer van God.

 

Die Here het vir ons wonderlike liggame gegee, so eie aan ons menswees.  En met alles wat ons in verantwoordelikheid met ons liggame kan doen, behoort ons die Here te eer en te dank.  So is ons lewende offers en nie dooie diere-offers soos tydens die ou verbond nie.  Waarom behoort ons so te lewe? Dis ons antwoord op God se groot ontferming waarvan ons ook byvoorbeeld hoor in Romeine 10. God se groot ontferming oor ons behoort ons elke dag aan te vuur om lewende offers te wees tot sy eer.

 

Kollektes:  Diakonale Dienswerk en Teologiese studente

Katkisasie:  Les 10

Teeskink: Wyke A2, B2 en C2

 

Lief en leed.

Corrie Sweers sukkel al `n paar weke met gordelroos op sy nek en kop.  Dit is baie pynlik en ongemaklik. Ons bid dat daar gou beterskap sal wees.

 

Willie Coetzee gaan volgende week Unitas hospitaal toe vir toetse op sy niere.

Ons dink verder in liefde aan almal wat tuis sukkel met siektes en gesondheidsprobleme. Mag julle steeds die Here se liefde, genade en hulp beleef en ontvang.

Laat ons getuies wees na buite!

Die naam Christen roep ons ook op om God se boodskap rondom ons te bring aan ander. Waarom?  Want Christen beteken om gesalf te wees.  As Christene is ons gesalf met die Heilige Gees om profete , priesters en konings in ons lewens te wees.  Elkeen van ons as gelowiges, jong en oud, groot en klein,  is gesalfdes van die Here, toegerus deur die inwerking van sy Heilige Gees om as profete  sy waarhede en sy boodskap rondom ons aan ander te bring.  Dit laat ons dink aan Jesus se woorde nie lank voor sy hemelvaart aan sy dissipels: Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom , en julle sal My getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.  Mag die Here ons bekragtig om met vrymoedigheid sy waarhede aan ander te bring.

Kleuterbegeleiding.

 

Elke Sondag van die skoolkwartaal is daar kleuterbegeleiding tydens die erediens beskikbaar vir kinders van 4 jaar tot graad 2. Verskeie elemente van die diens word dan op hulle vlak hanteer. Ouers kan die kinders voor die diens bring na die katkisasielokaal aan die westekant van die saal.   Ouers wat belangstel kan met Elizabeth Versteeg skakel (selno. 072 189 8499)

Gebed.

Maar gee my tog bo alles, o Skeppergod, die genade sodat al die skoonheid om my en al die lewenskrag in my my sal laat uitbars in `n loflied aan U, die Skepper van alles wat bestaan. O God, u teerheid teenoor u skepsels styg uit ver, ver bo die selfsugtige en eng liefde wat ons hier op aarde bedryf. Skenk my tog `n oop en gevoelige hart teenoor alles wat lewe. Keer my as ek enigeen van u skepsels, hoe gering ook al, harteloos wil seer– of doodmaak. Maak my veral bedagsaam  teenoor kinders , en siekes, armes, eenvoudiges, gestremdes. Herinner my, Here, dat ek alles wat ek aan een van hierdie “geringes” doen, in werklikheid aan U doen. – John Baillie 

 

Waar kom die sin van die lewe vandaan? Staan jy net op `n dag op en die son skyn helderder, die lug is blouer, die gras groener en daar is groter doelgerigtheid by jou, of vra dit dalk `n ander manier van dink oor wie en wat jy is? Om waarlik sin en betekenis in jou lewe te hê moet jy jou aardse lewe en al sy fasette koppel aan die Here self. – Johan Pienaar

_________________________________________________________________________

Vergaderings hierdie week.

Woensdag 22 April: Admin 09:00

Vrydag 24 April: SELA-groep byeenkms 10:00

_________________________________________________________________________

 

God wil jou gebruik om `n verskil in die wêreld te maak. Hy wil deur jou werk. Die belangrikse is nie hoe lank jou lewe duur nie, maar hoeveel daarvan jy skenk. Nie hoe lank jy geleef het nie, maar hoe jy geleef het. – Rick Warren

Ons sendinghart:  LIBIË

Die afwesigheid van ʼn enkele sentrale regering om wet en orde af te dwing, het die situasie vir Christene haglik gemaak. Die vlak van geweld teen Christene in Libië word as “baie hoog” geklassifiseer.

 

Sedert die arrestasie van verskeie Libiese Christene in Maart 2023 het verskillende owerhede samewerking versterk om Christelike aktiwiteite op die Internet te monitor. Libiese Christen-bekeerlinge vanuit ʼn Moslem-agtergrond staar intense druk van hul families en gemeenskappe in die gesig om hul geloof te verwerp. Almal van hulle beoefen hul geloof in die geheim.

 

Buitelandse Christene, wat meestal van ander dele van Afrika afkomstig is, word deur verskeie Islamitiese militante groepe en georganiseerde misdaadgroepe geteiken. Dié groepe ontvoer hulle vir mensehandel en eis dan lospryse, of dwing hulle om harde hande-arbeid te verrig. Elke jaar sterf talle Christelike trekarbeiders op see terwyl hulle probeer om Europa te bereik, of weens mishandeling in aanhoudingskampe.

Vir ons jeug.

2Met my hele hart wil ek U prys, Here, wil ek van u magtige reddingsdade vertel. 3Oor U wil ek my verbly en vrolik wees, u Naam wil ek besing, o Allerhoogste. Ps 9:2,3

Katkisasie.

Alle klasse doen vanoggend les 10.

 

Filii Dei Jeugbyeenkoms:

 

Ons volgende byeenkoms is komende Vrydag 29  Mei.  Hou solank die datum oop en nooi jou vriende.

Onthou om te laat weet wie kom almal.

 

Tannie Caréna 083-618-7678