Preek uit Matteus 6:5-15 met teksvers Matteus 6:9
Tema: Laat U Naam geheilig word – ons bede en opdrag!
Geliefde broeders, susters en kinders.
Dikwels hoor ons met skok hoe ander mense, ook in films en oor sosiale media, die Naam van die Here gebruik. Hoe behoort ons as gelowiges die Naam van God te gebruik en watter verantwoordelikhede het ons teenoor sy Naam. Ons wil graag hierop uit die Skrif vanoggend antwoorde vind.
Toe Jesus hier in Matteus 6 met sy dissipels gepraat het oor gebed was hulle steeds teen die berg waar Hy gaan sit het en hulle geleer het. Dis deel van sy bekende bergpredikasie. Na bepaalde waarhede oor gebed het Hy vir hulle `n voorbeeld van gebed voorgehou in die Onse Vader gebed. En die eerste bede van hierdie mees bekende gebed lui soos volg – Laat U Naam geheilig word. Kom ons kyk vanoggend na hierdie bede se betekenis en die opdrag wat uit hierdie bede na ons toe kom.
Dis `n bede hierdie en tog in die passiewe vorm. Laat geheilig word, U Naam. So staan dit letterlik vertaal. Met ander woorde. Hier roep ons God se hulp in sodat ons sy Naam heilig.
Wat beteken dit nou om God se Naam te heilig. Heel eenvoudig kan ons dit soos volg stel. Dit beteken om God se Naam as heilig te hanteer. Om God se Naam met respek en eerbied te gebruik.
Om God se Naam op `n heilige manier te hanteer beteken om dit anders te gebruik as wat hierdie sondige mensdom dit gebruik. Om jou gebruik van God se Naam af te sonder van die sondige gebruik daarvan. Dit is skokkend om te hoor hoe die mense van hierdie wêreld dikwels God se Naam misbruik en dit op `n ydele manier gebruik. In films , oor sosiale media en in gesprekke word God se Naam soms bloot as `n uitroep gebruik, amper soos `n vloekwoord, met geen begrip dat dit `n heilige en grote God is wie se Naam hier op so `n leë en spottende manier gebruik word. In howe gebruik mense God se Naam op `n onheilige manier wanneer hulle ede in sy Naam aflê en dan daarna leuens vertel met Hom as getuie.
Ons het as gelowiges soms die verantwoordelikheid om die heilige gebruik van God se Naam te beskerm. Soms sal ons ons stilte in gesprekke met familie en vriende en werksmense wat God se Naam ontheilig, moet verbreek. Met wysheid en in liefde sal ons soms moet opstaan vir die Here en ander teregwys en vermaan wat sy Naam onteer met hulle woorde.
Maar die belangrike vraag is . Is ons nog bedroef en geskok oor hoe God se Naam ontheilig word? Krap dit ons nog om en ruk dit ons nog tot stilstand? `n Kind is mos in die lewe omgekrap as sy ouers se name gespot of beledig word deur iemand terwyl hulle dit hoor. Hoeveel te meer behoort ons omgekrap en ontsteld te wees as ander die Naam van ons hemelse Vader ontheilig, spot, misbruik of ydellik gebruik. Of – het ons al so daaraan gewoond geraak? Ons sal tog net praat met mense wat sy Naam onteer as dit ons diep en innig raak en verwond in ons binneste, nie as dit ons nie pla nie.
Ons sal God se Naam verder net heilig en met ontsag hanteer in ons eie lewens wanneer ons Hom reg ken. Dit word ook in die Kategismus duidelik uitgelig. God se Naam dui op sy wese, wat Hy is en doen. En ons ken Hom uit die skepping en uit sy Woord.
Om God se Naam te heilig en so met respek te hanteer is soos die groot algemene beginsel wanneer ons sy Naam op ons lippe neem. Binne hierdie algemene beginsel is daar verskeie maniere waarop ons heel prakties sy Naam kan heilig. En hierdie verskillende maniere leer ons in die Bybel.
Ons kan dit vergelyk met die beeld van `n reënboog. Een reënboog met sy verskillende strale met verskeie kleure. Om God se Naam te heilig en so met respek te hanteer is soos sdie een reënboog. En om op verskeie maniere sy Naam prakties te heilig is soos die verskillende kleure strale van die reënboog.
Kom ons dink aan `n paar praktiese maniere waarop ons God se Naam kan heilig soos dit uit die Bybel duidelik word. Ons heilig sy Naam wanneer ons Hom saam met die skepping vereeras die grote en almagtige God wat alles geskep het in groot wysheid. Ons heilig sy Naam as ons Hom erken as God vol van krag en mag soos dit uit die hele skepping en alles in die skepping straal. En ons dink aan die wonderlike woorde van Dawid in psalm 8: 2: Here, ons Here, hoe wonderbaar is U Naam oor die hele aarde.
Ons heilig sy Naam wanneer ons Hom by Name dank vir al sy onverdiende seëninge in ons lewens en vir sy hulp en nabyheid in soveel praktiese omstandighede in ons lewens. Ons heilig sy Naam wanneer ons Homloof vir sy verlossingsdade in sy Seun Jesus Christus aan ons bewys.
Ons heilig sy Naam wanneer ons Hom roem en vereer vir sy goedheid en sy barmhartigheid deurdat Hy al ons sondes vergewe en ons aanneem as sy kinders deur die geloof in sy geliefde Seun.
Ons heilig sy Naam wanneer ons Hom prys en sy Naam grootmaak vir sy waarheid en sy getrouheid aan die waarheid van sy beloftes en woorde.
Wanneer ons God reg ken en al beter leer ken uit sy Woord sal ons Hom al meer bewonder en bly wees oor Hom en sy dade. Sal ons sy liefde, lankmoedigheid en geduld, sy trou, sy regverdigheid, sy goedheid, sy verhoring van ons gebede, sy omgee in ons nood en talle ander dinge al beter leer ken en sy Naam daarvoor dank, loof en prys.
Verder sal ons God se Naam net heilig as daar `n diep nederigheid in ons is. Ons erken tog nederig die grootsheid en uniekheid van die Naam van God wanneer ons sy Naam heilig en ons vir die heiliging van sy Naam beywer.
Die gebed, – laat U Naam geheilig word, is ten diepste ook `n gebed om die kragtige werking van die Heilige Gees in ons binneste. Want slegs deur die werking van die Heilige Gees is ons in staat om met opregte en nederige harte God se Naam te heilig en vol eerbied en ontsag sy Naam op ons lippe te neem.
En as ons soek na Iemand om na te volg as voorbeeld hoe om God se Naam te heilig, dan hoef ons nie verder te soek as ons Here Jesus Christus nie. Steeds en altyd het Hy die Naam van God volmaak geheilig in sy lewe. En wanneer Hy sy gebed bid in Johannes 17 tot sy Vader voor sy kruisdood, wys Hy ook in die gebed daarop dat Hy God se Naam aan sy volgelinge bekend gemaak het wanneer Hy in vers 6 sê: Ek het U Naam bekend gemaak aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het.
Broeders en susters, liewe kinders, ons moet ook let op ons eie lewens, ons eie woorde en dade, sodat ons lewens nie daartoe bydra dat ander God se Naam ontheilig , bespot en belaster nie. Die Kategismus wys ook in die laaste sin daarop dat ons ons lewens so moet inrig dat God se Naam nie om ons ontwil gelaster word nie, maar eerder geprys word.
Wanneer ons Sondagchristene is, wat op Sondae reg lewe en praat , maar van Maandae tot Vrydag by die werk praat en doen net soos wat ons wil, wat sal ander mense daarvan dink. Hulle weet mos ons is gelowiges. As ons maar net lyk soos ongelowiges, mense is wat net aan ons eie belange dink, mense wat onsself verhef en groot dink oor onsself, mense wat vol van haat en van rusie isMense is wat maar net ons sondige natuur uitleef. Sal ander nie dink of sê. Hierdie mens se God is verseker nie vir hom of haar belangrik nie, net op Sondae. En so sal hulle eintlik met God spot as `n God wat nie juis invloed het op sy kinders nie.
Maar die teendeel kan ook gebeur. Wanneer ons toegewyde kinders van die Here is,altyd en oral, in die skool en in die werkplek en tuis. Wanneer ons lewe onder die beheersing van die Heilige Gees en ons woorde en optrede dit wys. Dan kan die wonder net gebeur dat ongelowiges op grond van ons lewens en woorde begin om God se Naam te verheerlik en te prys en so sy Naam te heilig in hulle lewens. Jesus het mos gesê in Matt. 5:16: Laat julle lig so voor die mense skyn dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.
Laat U Naam geheilig word. Mag hierdie gebedswoorde wat Jesus ons leer bid het, steeds deel wees van ons gebede. Mag ons dit persoonlik en in ons gesinne en in ons eredienste bid vanuit nederige harte, met gloeiende erns en in opregtheid. En mag ons ook opnuut daardeur geïnspireer word om die Naam van die Here ons God altyd met heilige ontsag en eerbied te gebruik tot sy eer en verheerliking. Amen.