Woensdag 17 Junie 2026.
Vooraf: Ons herinner almal in ons gemeente aan ons nagmaalsviering DV eerskomende Sondag, 21 Junie. Ons wil al ons lidmate aanmoedig om te kom deelneem aan hierdie sakrament wat ons Here Jesus ingestel het die aand voor sy kruisdood.
Ons oordink graag vanoggend psalm 111 in ons Woensdagboodskap. Dis `n psalm vol vreugde waar die digter met blydskap nadink oor die Here en sy dade. Sy nadenke oor God en sy wonderlike dade motiveer en inspireer hom om die Here te loof. So sê hy in vers 1: Met my hele hart wil ek die Here loof in die samekoms van die opregtes, in die gemeente. Hy wil die Here nie net in sy huis persoonlik loof en prys nie, maar ook saam met sy medegelowiges waar hulle byeenkom by die tempel.
Die Here se dade vir sy kinders vloei voort uit bepaalde eienskappe van Hom. Ons hoor in vers 4 die uitroep van die digter: Genadig en barmhartig is die Here. Alles wat die Here doen vir sondige mense, destyds en vandag, spruit voort uit sy genade en sy barmhartigheid.
Genade beteken Hy handel met sondige mense anders as wat hulle verdien. En barmhartigheid dui op sy deernis en liefdevolle ontferming oor sondige mense in hulle nood.
In die nagmaal blyk hierdie twee eienskappe van die Here ook so duidelik. Want nagmaal gaan oor die kruisiging van ons Here Jesus waar Hy sy liggaam en bloed as offer gegee het vir ons sondes, afgeteken in die tekens van brood en wyn.
Dis vanweë God se genade en sy barmhartigheid oor sondige mense dat Hy sy Seun gegee het om so te kom sterf in die plek van sondige mense en met hulle sondes op Hom. En elkeen wat in Jesus glo kry deel aan God se genade en sy barmhartigheid. As gelowige beleef jy deur die geloof in die gekruisigde Verlosser God wat sonder dat jy dit verdien jou vryspreek van sondes en sondeskuld, wat vol barmhartigheid en deernis jou aanneem as sy kind en wat as Vader met jou `n pad stap in jou lewe. Mag ons nagmaalsviering opnuut ons oë oopmaak vir God se genade en sy barmhartigheid in ons lewens, ook elke dag. En kom ons kom loof en prys Hom almal saam met vreugde daarvoor in ons samekoms Sondag.
Gebed.
Ons Vader in die hemel, ons loof en prys U vanoggend opnuut met blydskap in ons harte. Ons loof en prys U vir U genade en barmhartigheid oor sondige mense soos elkeen van ons. Ons loof en prys U met vreugde oor U genade in Jesus Christus aan ons bewys. U het die wêreld so liefgehad dat U U enigste Seun gegee het , sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Dankie vir nog `n geleentheid wat U vir ons as gemeente Sondag gee om saam nagmaal te kan vier en so ook saam bly te kan wees oor U genade en ontferming aan ons in ons lewens.
Dankie dat ons in die klein dingetjies van elke dag U hand van genade en sorg en liefde in ons lewens kan raaksien. Ons loof en dank U daarvoor, om Jesus ontwil.
Amen.