Categories
Nuusbrief

Nuusbrief 26 April 2026

19Toe ek met baie onrus in my binneste sit, het u vertroosting my tot rus gebring. 22Maar vir my is die Here ’n veilige vesting. My God is die rots waar ek kan skuil.   Ps 94:19,22

Verwelkomingswoorde.

 

Dit is vir ons `n vreugde om vanoggend in ons erediens hier saam te kan wees. Mag die Here ons lei deur sy Heilige Gees sodat ons elkeen Hom waarlik sal ontmoet en met opregte harte sal dien en eer.  Mag ons dit wat ons vanoggend leer saamneem en uitleef in ons lewens elke dag. En kom ons gaan dra die Here se boodskap ook uit na ander wat Hom nie ken nie of van Hom wegbeweeg het.  Baie welkom aan almal – lidmate, kinders en besoekers.  

 

Ons erediens vandag:

 

Ontmoetingsdeel:

Sang: Ps 100:1,2,3 (1936, p 494)

Votum: Ps 94: 19,22 (in Bybel)

Groetseën

Sang:Ps 34: 1,2,6 (1936, p 167, tweede melodie)

Apostoliese Geloofsbelydenis

Sang:Lied 188:1,2

 

Verootmoediging- en versoeningsdeel.  

Die Here se opdragte:Filippense 2: 1-5, 12-16
Versoening:Fil 3: 7-9

Sang:Lied 514:1,2

 

Woordgedeelte: 

Gebed

Sang:Sk 4-3:1,2

Skriflesing: Openbaring 10

Teksvers:Openbaring 10:10

Prediking met tema:

Die soet en bitter boekie!

 

Antwoordgedeelte:

Sang: Ps 119: 10,11 (2001, p 601)

Gebed

Slotsang:Ps 31: 8, 12,17 (1936, p 145, tweede melodie)
Wegstuurseën

Sang(amen): Sk 13-2

 

Tema van die preek:

Die soet en bitter boekie!

 

Die bejaarde aspostel sien nog `n gesig daar op die afgeleë eilandjie Patmos. Hy sien `n boekie wat oop is in die hand van `n engel.  Later kry hy die opdrag van die engel om die boekie te eet.  En dan die verrassende – die boekie se smaak.  Dit proe soet in die mond en tog bitter as dit in die maag kom. Waarop sou die boekie dui? En dan sy smaak wat soet en  bitter is? Kom ons luister nederig na die Here se Woord.

 

Applous 2026: 14 – 16 Mei

Applous kom nou vinnig nader!

Sal helpers asb hulle name by Eugene (082-553-7545) of Caréna (083-618-7678) opgee.

Ons wil graag die skofte begin uitwerk.

Meld asb of u Donderdag, Vrydag of Saterdag kan help en of u die oggend of middag verkies.

 

Lief en leed.

 

Baie geluk aan Kobus en Magda Nel wat Vrydag ‘n nuwe kleindogter ryker geword het, mag sy vir julle baie vreugde bring.

 

Kobus Nel het ook ‘n 2de plek behaal vir ‘n stuk wat hy geskryf het vir die 1ste Internationale Assosiasie vir energie ekonomie se aanlyn konferensie.

 

Willie Coetzee is steeds in die hospitaal vir verdere nier-toetse.

Ons dink in liefde aan almal wat tuis sukkel met siektes, gesondheidsprobleme en ander beproewings.Mag julle steeds die Here se liefde, genade en hulp beleef en ontvang.

 

Laat ons getuies wees na buite!

Wanneer ons dink aan ons roeping om getuies vir die Here te wees dink ons dikwels aan woorde  gerig  aan mense wat buite die kerk staan of nie glo nie. Tog moet ons ook getuies wees teenoor medegelowiges in die gemeente en in ons huise.  Wanneer ouers in `n huis hulle kinders leer uit die Here se Woord is hulle Christus se getuies. Wanneer `n kind `n waarheid uit die Skrif vir `n boetie , sussie of ouer deurgee,  is hy of sy Christus se getuie!

 

Dikwels in die gemeente het ons ook geleenthede om Christus se getuies te wees en sy boodskap met ander te deel.  Wanneer ons medegelowiges in die gemeente swaar kry of deur beproewings gaan is dit vir ons `n geleentheid om die waarhede van die Skrif met hulle te deel en hulle so te bemoedig. Dan is ons Christus se getuies! Soms sal dit selfs nodig wees om `n medegelowige terug te roep na die regte paaie van die Here wanneer hy of sy in `n bepaalde sonde volhard en vasval. Dan is ons Christus se getuies! Mag ons elke geleentheid benut wat die Here vir ons gee om sy getuies te wees, ook teenoor ons huisgenote en ons medegelowiges in die gemeente.

 

 

Kleuterbegeleiding.

 

Elke Sondag van die skoolkwartaal, uitgesonderd langnaweke,  is daar kleuterbegeleiding tydens die erediens beskikbaar vir kinders van 4 jaar tot graad 2. Verskeie elemente van die diens word dan op hulle vlak hanteer. Ouers kan die kinders voor die diens bring na die katkisasielokaal aan die westekant van die saal.   Ouers wat belangstel kan met Elizabeth Versteeg skakel (selno. 072 189 8499)

 

Gebed.

 

Maar gee my tog bo alles, o Skeppergod, die genade sodat al die skoonheid om my en al die lewenskrag in my my sal laat uitbars in `n loflied aan U, die Skepper van alles wat bestaan. O God, u teerheid teenoor u skepsels styg uit ver, ver bo die selfsugtige en eng liefde wat ons hier op aarde bedryf. Skenk my tog `n oop en gevoelige hart teenoor alles wat lewe. Keer my as ek enigeen van u skepsels, hoe gering ook al, harteloos wil seer – of doodmaak. Maak my veral bedagsaam  teenoor kinders , en siekes, armes, eenvoudiges, gestremdes. Herinner my, Here, dat ek alles wat ek aan een van hierdie “geringes” doen, in werklikheid aan U doen. – John Baillie

 

 

God gee ons nie altyd `n antwoord oor waarom ons moet ly nie. Maar Hy belowe dat Hy in elke krisis by ons sal wees. – JE de Vries  

_________________________________________________________________________

 

Verjaarsdae hierdie week.

 

Hartlik geluk aan die lidmate wat verjaar.

Ons wens jou ‘n geseënde en vreugdevolle nuwe lewensjaar toe.

 

26 April, Petra Rosema, Belydend, 082-575-7483, B3
27 April, Denise de Ridder, Belydend, 079-500-6786, A2
28 April, Tamerin Pretorius, Belydend, 071-864-7798, A3
30 April, Judith Schoeman, Belydend, 076-072-2136, C2

1 Mei, Jo-Rika du Plessis, Belydend, 084-608-5000, A3

2 Mei, Marda Munnik, Belydend, 082-967-9322, C2

2 Mei, Jason Pretorius, Belydend, 061-881-8741, A3

 

Vergaderings hierdie week.

 

Dinsdag 29 April: Bybelstudie om 10:15

_________________________________________________________________________

 

Soms plaas God ons onder die dissipline van die donkerte om ons te leer om op Hom ag te slaan. Nagtegale word geleer om in die donker te sing, en ons word onder die skaduwee van God se hand geplaas totdat ons geleer het om na Hom te luister. – Oswald Chambers

 

 

Ons sendinghart:  Iran

 

Christene in Iran word ernstig en stelselmatig onderdruk, aangesien die owerhede poog om alles uit te roei wat hulle as ʼn bedreiging van die Weste beskou om hulle Islamitiese heerskappy te ondermyn. Bekeerlinge na Christenskap is die meeste in die spervuur.

Die regime beskou bekerings na Christenskap as ʼn Westerse bedreiging om die Islamitiese Republiek te ondermyn. Leiers en lede van bekeerling-groepe, asook Christene wat hulle bystaan, staar arrestasies, vervolgings en lang vonnisse in die gesig, gewoonlik op aanklagte van “oortredings van nasionale veiligheid”.

Hierdie onderdrukking het vererger ná die oorlog tussen Israel en Iran in Junie 2025, toe die owerhede bekeerlinge openlik daarvan begin beskuldig het dat hulle Israel help (Article 18, 25 Augustus 2025). Minstens 50 Christene is in die onmiddellike optrede ná die oorlog aangehou.

Met die huidige oorlog in Iran wil die regering ten alle koste die mag behou en daarom vind daar daaglikse teregstellings van die ongewapende plaaslike bevolking plaas, wat die regime omvergewerp wil hê. Hieronder val daar minderheidsgroepe en baie Christene. Ondanks die haglike toestande is daar tans baie Iranese wat tot die Christelike geloof kom.

 

Vir ons jeug.

 

10Vir die mens wat in gevaar verkeer, is die Here ’n toevlug, ’n skuilplek in tye van nood. 11Daarom vertrou almal wat u Naam bely op U, want U, Here, laat dié wat vra na u wil, nie in die steek nie. Ps 9:10,11

Katkisasie.
Geen

 

Filii Dei Jeugbyeenkoms:

 

Ons volgende byeenkoms is komende Vrydag 29  Mei.
Hou solank die datum oop en nooi jou vriende.

Onthou om te laat weet wie kom almal.

 

Tannie Caréna 083-618-7678