Categories
Inspirasie

Inspirasie vir die dag – 29 April 2026

Woensdag  29 April 2026.

Vooraf:

Neeltjie Botha is nog in die Wilgers Hospitaal se intensiewe eenheid na die heupvervangingsoperasie Sondag. En oom Pieter Botha is nog in die hoësorgsaal van die Pretoria Oos Hospitaal vir behandeling met longontsteking. Doen asb vir hulle voorbidding in julle gebede.   

Ons oordink graag vanoggend psalm 95  in ons Woensdagboodskap. Lees gerus die  psalm deur. Ons kernverse in die psalm is verse 1 en 7: Kom, laat ons jubel tot eer van die Here, laat ons juig oor die rots by wie ons redding vind. ..Hy is ons God, en ons is sy volk, sy kudde , sy skape, deur sy hand versorg.

Hoe gaan dit met ons blydskap as gelowige kinders van die Here. Van Genesis tot Openbaring hoor ons van die blydskap wat pas by God se kinders.  Ook psalm 95 is `n psalm vol van vreugde en blydskap.  Die gelowiges word opgeroep om te jubel en te juig tot eer van die Here.  Waarom? Hy is die rots by wie ons redding vind.

God en sy verlossingsdade was en is nog altyd die groot rede vir sy volk, sy kinders, se vreugde.  Hy verlos sy mense van soveel dinge, fisies en geestelik.  Sy groot fisiese verlossingsdaad waarvan ons dwarsdeur die Bybel lees was toe Hy sy volk uit die verskriklike slawerny van Egipteland verlos het.  Met groot reddingsdade het Hy hulle daaruit gered en hulle gelei na `n nuwe lewe en bestaan in die land Kanaän.

In ons eie lewe sien ons dikwels hoe die Here ons verlos en losmaak uit bepaalde fisiese node.  Hy maak ons los van siekte en pyn en gee genesing. Hy maak ons los van finansiële nood en voorsien byvoorbeeld `n goeie werkgeleentheid. Hy maak ons los van twis en stryd in gesin en familie en bring vrede.  Jy kan gerus dink oor dinge waarvan die Here jou bloot fisies in jou eie lewe al verlos en gered het.

Die uittog uit Egipte word in die Skrif egter ook gebruik as `n beeld van God se geestelike reddingsdade in die lewens van sy kinders.  Hy het ons deur die werk van sy geliefde Seun in wie ons glo, ook losgemaak en gered uit die slawerny van sonde en uit die dood. Hy  het ons gered uit die heerskappy en mag van die duiwel. Hy het ons verlos van ewige straf en dood. Hy gee ons nou `n nuwe en ewige lewe waarin die Heilige Gees ons lei en troos. Hy skenk vergewing van sondes en uitsig op ewige heerlikheid. Hy is ons nuwe eienaar  soos vers 7 so mooi stel: Hy is ons God en ons is sy volk, sy kudde, sy skape , deur sy eie hand versorg.

Al hierdie reddings- en verlossingsdade van die Here behoort ons vanoggend opnuut te vul met groot vreugde en blydskap voor Hom. En ons kan Hom maar net daarvoor loof en dank.  Maar baie belangrik , volgens die Skrif loof en dank ons God op twee maniere. Nie net deur gebede en sang nie, ook deur ons gehoorsaamheid in ons lewens.  Ons lees mos in ons psalm, vers 7b : As julle vandag maar na Hom wou luister.

Ons moet die Here ons redder en koning ook loof en prys met ons lewens van gehoorsaamnheid aan sy opdragte en wil.  Ook dit word van ons as sy kinders verwag, ook dit moet ons met vreugde en blydskap doen om Hom ook so ook met ons optrede te loof en te dank vir al sy verlossingsdade.

Gebed.    

Ons Vader in die hemel,

Ons is vanoggend opnuut vervul met blydskap voor U, ons redder en ons koning. As ons dink aan al U reddingsdade, al die uitkomste wat U vir ons gegee het in ons lewens, loof ons U met vreugde in ons harte.

Ons loof U dat ons aan U kan behoort en deel van U kudde skape kan wees deur die geloof in ons goeie herder, Jesus Christus.  Ons dank U vir U daaglikse sorg in ons lewens en vir alles wat U vir ons gee sonder dat ons dit verdien.

Ons bid vir ons medegelowiges wat nog in die hospitaal is. Neeltjie Botha na die heupoperasie, en oom Pieter  Botha met longontsteking. Wees U ook elke oomblik by hulle en lei hulle na genesing en nuwe krag. Ons bid dit alles uit genade om Jesus ontwil. Amen.