Categories
Nuusbrief

Nuusbrief 17 Mei 2026

4Gaan sy poorte binne met dankliedere, sy tempel met lofsange, dank Hom, prys sy Naam, 5want die Here is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie, sy trou duur van geslag tot geslag.   Ps 100:4,5

Verwelkomingswoorde.

 

Dit is vir ons `n vreugde om vanoggend in ons erediens hier saam te kan wees. Mag die Here ons lei deur sy Heilige Gees sodat ons elkeen Hom waarlik sal ontmoet en met opregte harte sal dien en eer.  Mag ons dit wat ons vanoggend leer saamneem en uitleef in ons lewens elke dag. En kom ons gaan dra die Here se boodskap ook uit na ander wat Hom nie ken nie of van Hom wegbeweeg het.  Baie welkom aan almal – lidmate, kinders en besoekers.  

 

Kollektes:  Diakonale Dienswerk en Teologiese studente

Katkisasie:  Les 12

Teeskink: A1, B1 en C1

 

Ons erediens vanoggend:

 

Ontmoetingsdeel:

Sang: Lied 163

Votum: Ps 100:4,5 (in Bybel)

Groetseën

Sang: Ps 46:1,6 (1936, p 236)

Apostoliese Geloofsbelydenis

Sang:Ps 9:1,5,7 (1936, p 36, tweede melodie)

 

Verootmoediging- en versoeningsdeel.  

Die Here se opdragte:Eksodus 20 – tien gebooie
Versoening: Gal. 2:15,16

Sang:Sk. 9-2:8,9

 

Woordgedeelte: 

Gebed

Sang:Ps 119:33 (1936, p 593, tweede melodie)

Skriflesing:Lukas 23 : 32-43

Teksvers:Lukas 23: 42,43

Prediking met tema:

Jesus se liefdevolle belofte na `n paar smeekwoorde.

 

Antwoordgedeelte:

Sang:  Lied 510: 1-4

Gebed

Slotsang:Lied 525:2,3
Wegstuurseën

Sang(amen): Sk 13-2

 

Tema van die preek:

Jesus se liefdevolle belofte na `n paar smeekwoorde.

 

Jesus is tussen twee misdadigers gekruisig.  Een het met Hom gespot , maar die ander een het `n hartsverandering ondergaan. Daar in sy laaste ure op aarde het Hy Jesus genader met `n eenvoudige en kinderlike gebed, tog vol geloof.   En wat `n wonder van liefde, genade en ontferming was Jesus se tweede kruiswoorde nie vir hierdie man nie.  Ook elkeen van ons wat in Hom glo, hoor vandag nog hierdie wonderlike liefdevolle woorde.

 

Lief en leed.

 

Neeltjie Botha is weer tuis na die onlangse heupvervangingsoperasie. Ons dank die Here vir die beterskap en bid dat sy elke dag sterker sal word.

 

May Pretorius het die afgelope Woensdag `n skouervervangingsoperasie in die Wilgers Hospitaal ondergaan nadat sy geval en haar skouer baie beskadig is.  Ons dank die Here dat dit goed afgeloop het en bid vir `n spoedige herstel.

 

Petra Rosema het onlang ‘n handoperasie ondergaan en sterk tans tuis aan. Ons bid vir spoedige an algehele herstel.

 

En Vicky Ludick is opgeneem in die Unitas Hospitaal vir waarneming en toetse na `n epilepsie-aanval. Ons dink aan jou en bid dat die korrekte behandeling gevind sal word en dat dit gou beter sal gaan.

 

Laat ons getuies wees na buite!

 

Binnekort, volgende Sondag 24 Mei, herdenk ons op pinkstersondag die uitstorting van die Heilige Gees tydens die pinkterdag.  Waarom is hierdie gebeurtenis so belangrik vir `n stukkie soos hierdie waar ons tema is – Laat ons getuies wees na buite!

 

Dis omdat die Heilige Gees die sentrale kragbron is wat ons toerus en gewillig en bekwaam maak om wel die Here se getuies te wees.  Jesus het voor sy hemelvaart vir sy dissipels gesê: Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom en julle sal My getuies wees in Jerusalem, sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld. (Hand. 1:8)

 

Ons sien hierdie beginsel al net na die uitstorting van die Heilige Gees.  Die eerste gevolg van die uitstorting hoor ons van in Hand. 2: 11. Hulle het , selfs in ander tale, begin praat oor die groot dinge wat God gedoen het. Laat ons nooit hierdie waarheid vergeet nie. Soos `n motor nie kan beweeg sonder `n enjin nie, so kan ons nie God se getuies wees sonder die Heilige Gees se werking in ons nie. Laat ons altyd bid om die vervulling en die kragtige werking van die Heilige Gees sodat ons bekwame en effektiewe en vrymoedige getuies van die Here en sy waarhede sal wees in ons lewens van elke dag.

 

Kleuterbegeleiding.

 

Elke Sondag van die skoolkwartaal, uitgesonderd langnaweke,  is daar kleuterbegeleiding tydens die erediens beskikbaar vir kinders van 4 jaar tot graad 2. Verskeie elemente van die diens word dan op hulle vlak hanteer. Ouers kan die kinders voor die diens bring na die katkisasielokaal aan die westekant van die saal.   Ouers wat belangstel kan met Elizabeth Versteeg skakel (selno. 072 189 8499)

 

Gebed.

 

Here, dis dieselfde tong waarmee ons U loof en ons naaste beledig en beskinder. Dis met die een tong wat ons oor u liefde getuig en waarmee ons ons eie lof besing. Dis dieselfde tong wat beide seën en vervloeking uitspreek. O God, hoe kan daar uit dieselfde fontein vars en brak water kom? Dit bly `n raaisel hoekom ons wat kinders van God is, agter elke fluitspeler van hierdie wêreld aantou . En terselfdertyd, Here, bly dit `n onbegryplike wonder dat U ons nie toelaat om heeltemal weg te loop nie. Want groter as die raaisel van ons ontrou is die wonder van U trou. Groter as die raaisel van ons liefdeloosheid is die wonder van u liefde. Die liefde wat ons hier op aarde ken, Here, word so dikwels deur selfsugtige motiewe gedryf dat ons dit moeilik vind om u liefde te verstaan. Maar, Here, om myself te ken as `n geliefde van God, is dalk die moeilikste van alles om te glo. – Ockert Meyer.

 

 

Gister was God my genadig en ook môre sal Hy my genadig wees. Dieselfde geld vir die dag daarna en daarna en daarna, todat daar nie meer dae sal wees nie en die tyd deur die ewigheid ingesluk sal word. Tussen vandag en die hemel is elke oomblik van die Christen se lewe `n oomblik van genade. 

_________________________________________________________________________

 

Verjaarsdae hierdie week.

 

Hartlik geluk aan die lidmate wat verjaar.

Ons wens jou ‘n geseënde en vreugdevolle nuwe lewensjaar toe

 

17 Mei, Stiaan Botha, Doop, B2

19 Mei, Anton Liebenberg, Belydend, 082-781-2643, A3

21 Mei, Mathys Versteeg, Doop, A2

23 Mei, Joey du Plessis, Belydend, 072-356-3234, C1

 

Vergaderings hierdie week.

Sondag 17 Mei – Aandsamekoms om 17:30 – Almal welkom!

Die  bedienings- en beplanningskommissie vergader op Dinsdagaand 19 Mei.


NUUS VAN DIE BIBLIOTEEK

BURGER, Isak    Soms sê Jesus “Nee.” Waarom God se “Nee” soms beter as’n “Ja” is.    Uitg. CUM, datum 2006.

Dit is iets wat ons nie verstaan nie en eintlik ook nie van hou nie. Waarom sê Jesus nee as ons in vertroue Hom iets in Sy Naam vra? (Joh. 14:14). Ons vergeet dat Jesus die hele prentjiie van ons lewe sien. Sy planne is nie ons planne nie. Die klem van hierdie werk val op die geskiedenis van die besete man van Gadara en God se plan met sy lewe.

Klassifikasienommer: C/ B U R     

BURGER, Isak    Die Geesteswêreld; perspektief op die onsienlike wêreld rondom ons.   Uitg. CUM, datum 2005.

Is daar ‘n onsienlike wêreld rondom ons? Is daar ‘n geesteswêreld en wat weet ons van daardie wêreld? Die geesteswêreld is nie ‘n plek wat geografies bepaal kan word nie. Dit is in ’n ander dimensie. Alhoewel ons hierdie wêreld nie kan aanraak of sien nie, is dit steeds ‘n werklikheid en moet ons as gelowiges daarvan kennis neem, want dit beïnvloed elkeen se lewe.

Klassifikasienommer: C 4 / B U R

MEYER, Joyce     Sewe dinge wat jou vreugde steel; oorwin die hinderisse op jou pad na geluk.

Uitg. Struik Christelike boeke, datum 2004.

Vreugde is ‘n vrug van die Heilige Gees se inwoning in elke gelowige se lewe. Die Bybel sê ons moet juig tot eer van God en jubel in die Here, maar daar is  dinge wat hierdie vreugde van ons steel. Die skryfster ondersoek sewe van hierdie vreugdestelers en gee vreugde-ankers uit God se Woord, sodat ons  altyd bly mense kan wees.

Klassifikasienommer:  C 5 / M E Y

Margreet

 

Die mens wat vergewe is die mens in sy edelste oomblikke, want om te vergewe is om groot te wees; daarom vergewe `n lafaard nooit. Waarom ek kan vergewe en ook moet vergewe? Omdat ek vergewe is – deur Hom. – Johan Heyns

 

 

ONS SENDINGHART:

 

Openbaring 3:2: “Word wakker en versterk wat nog by julle oorgebly het, wat op die punt staan om dood te loop. Wat julle doen, vind Ek nie goed genoeg voor die oë van my God nie.” Dit is Broer Andrew se klassieke oproep en die vers wat in Geopende Deure se DNS ingebed is. Sedert hierdie bediening meer as 70 jaar gelede begin het, was ons mandaat nog altyd om die mees vervolgdes te versterk op plekke waar dit moeilik is om ʼn Christen te wees. In sommige van hierdie geslote lande lyk dit dalk of die Kerk op die rand van die dood is, maar dit volhard! In plekke soos Sirië, waar die aantal Christene van ʼn geskatte 1,8 miljoen in 2011 tot sowat 300 000 nou gedaal het, lyk dit dalk of die Kerk uitsterf. Maar daar is oorblywendes wat gekies het om te bly.

 

Waarom kies hulle om getrou te bly?

Die Christendom bly in hierdie land en het die uithoeke van die aarde bereik. Ons is die bron – ons is diegene wat sal bly en vorentoe beweeg. Ons sal die baken van lig, die sout en die suurdeeg bly wat sal gis, ons sal ʼn lig skyn op die verduisterde harte van ander. Ek glo vas dat die Here mettertyd hierdie harte sal binnegaan en hulle sal verander en herskep,” sê vader Bashar Laham.

 

Die aanval het my geloof verdiep. Ons leef dag vir dag. Ons het geen ambisie, behalwe om getrou te bly, nie. Die martelaars het ʼn voorbeeld vir ons geword. As ons gevra word om ons lewens te gee, sal ons dit dadelik gee,” sê Elias, wat in 2025 verskeie familielede in die St. Elias-kerkaanval in Damaskus verloor het.

 

Intussen is Christene in Jemen nie noodwendig oorblywendes van bestaande Christelike families nie, maar eerder ʼn nuwe geslag Christene wat besluit om te bly en in hul tuisland te woon, en te midde van ernstige uitdagings en soms haat te dien.

Hier het die meeste Christene nie die voorreg om aan ʼn familie te behoort wat Jesus volg nie, en dit kan eensaam voel. Maar selfs te midde van sulke uitdagings toon hulle dapper geloof.

 

Sommige, soos die universiteitstudent Zaid, het ʼn visie om “soos Paulus te leef”.

Hy het op ʼn gevaarlike plek gewoon, soortgelyk aan waar ek woon. Hy was omring deur Fariseërs, ek is omring deur ekstremiste. Tog het Paulus sy gemeenskap verander en dit van duisternis na lig omskep, saam met en deur God. Ek wil ʼn spieël wees wat Jesus weerspieël,” sê Zaid.

Vir ons jeug.

5Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af. Ps 16:5

 

Katkisasie: Les 12

 

Filii Dei Jeugbyeenkoms:

 

Ons volgende byeenkoms is komende Vrydag 29  Mei. 

Hou solank die datum oop en nooi jou vriende.

Onthou om te laat weet wie kom almal.

 

Tannie Caréna 083-618-7678