Woensdag 6 Mei 2026.
Vooraf:
Neeltjie Botha is nou in die Intercare Hazeldean aansterkkliniek na die heupvervangingsoperasie en oom Pieter Botha is tans in `n gewone saal van die Pretoria Oos Hospitaal. Hy is baie beter na die longontsteking, maar is nog swak en het min krag. Ons dank die Here vir die beterskap by albei van hulle.
Ons oordink graag vanoggend psalm 96 in ons Woensdagboodskap. Lees gerus die psalm deur. Ons kernvers in die psalm is vers 3: Vertel die nasies van sy mag, al die volke van sy magtige dade.
Volgende Donderdag is dit hemelvaartdag en dan oordink ons die Here Jesus se hemelvaart vanaf die Olyfberg buite Jerusalem. Voor sy hemelvaart het Jesus baie klem gelê op sy volgelinge se verantwoordelikheid om in die wêreld in te gaan met sy boodskap. Ons dink aan sy woorde in Matteus 28:19 : Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels. Ons dink ook aan sy belofte in Hand. 1:8 waar Hy gesê het: Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.
Die beginsel dat die volk van die Here ook aan ander volke en nasies God se waarhede moet verkondig vind ons egter reeds in die Ou Testament. Ons psalm is een so `n voorbeeld. Telkens in hierdie psalm hoor die volk die opdrag om ook aan ander volke van die Here en sy grootheid te vertel, van sy mag en sy magtige dade.
Kom ons kyk bietjie na die magtige dade van die Here wat in die psalm uitgelig word. Hy het met mag en wysheid alle dinge geskep, sodat die digter in verse 5 en 6 sê: dit is die Here wat die hemele gemaak het. Majesteit en luister straal van Hom uit, krag en glans vul sy heiligdom.
Die Here het egter nie net alles geskep en dit toe maar uitgelos nie. Hy regeer steeds oor die werke van sy hande en ook dit is `n magtige daad wat in vers 10 uitgelig word: Verkondig onder die nasies : Die Here regeer; die wêreld staan vas..
Nog `n magtige daad van die Here wat in psalm 97 uitgelig word is sy mag om oor alle volke te oordeel. Ons hoor byvoorbeeld in vers 10b: die Here sal die volke regverdig oordeel. Dit het in die geskiedenis dikwels gebeur soos toe Hy die Egiptenaars in die Rooi see laat verdrink het. Dit sal in die toekoms finaal gebeur op die dag wanneer Christus weer kom om te oordeel en almal voor sy koninklike troon sal verskyn sodat Hy skeiding maak tussen sy skape en die bokke.
Hierdie en ook ander magsdade van die Here wat in die Bybel beskryf word, moet ons boodskap word wanneer ons tussen ongelowiges beweeg in ons lewens. Mag die Here ons lei deur sy Heilige Gees sodat ons met vrymoedigheid sy magsdade sal verkondig en betroubare getuies van Hom sal wees. En mag Hy gee dat ons getuienis vrugte dra en dat al meer mense Hom sal dien en eer.
Gebed.
Ons hemelse Vader, ons buig voor U in aanbidding en verwondering oor U mag en U heerlikheid. Ons loof en eer U as die Skepper van alle dinge rondom ons. Alles is die werk van U hande.
Ons bid dat U ons sal vul met U Heilige Gees en ons so bekwaam sal maak om U getuies te wees en ook aan ander U magsdade te verkondig. Dankie dat U ons so gebruik om U koninkryk te laat kom sodat meer en meer mense U as Koning eer en dien. Vergewe tog uit genade al ons sondes, ook ons onwilligheid om soms U waarhede aan ander te bring. Ons bid dit om Jesus ontwil . Amen.