Categories
Inspirasie

Inspirasie vir die dag – 20 Mei 2026

Ons oordink graag vanoggend psalm 100 in ons Woensdagboodskap.

Psalm 100 is een van die bekendste psalms , ook wanneer ons dit saam sing.  Dis `n psalm vol van oproepe om die Here met blydskap te dien.  Dit moedig ons aan om die Here ook vanoggend met blydskap te dien, te loof en te dank.  Maar waarom hierdie oproepe om die Here met blydskap te loof en te dank? Kom ons dink bietjie uit ons psalm.

Ons hoor in vers 3 die woorde: Erken dat die Here God is. Hy het ons gemaak en ons is Syne, ons is sy volk, sy eie kudde. En in verse 4b en  5 hoor ons: …prys sy Naam, want die Here is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie, sy trou duur van geslag tot geslag.

Ons hoor in hierdie woorde wonderlike dinge waarvoor ons die Here weer vanoggend met blydskap kan loof en dank. Hy het ons gemaak, Hy het ons gevorm en vir ons die lewe geskenk. Diep in ons moeders se skoot het Hy ons gevorm , so hoor ons in psalm 139. Hy het elkeen van ons uniek gemaak, daar is niemand op aarde presies soos jy nie.

En die wonderlike verdere nuus is dat Hy ons nie net gemaak het nie, maar dat ons sy eiendom is.  Ons behoort aan Hom,  ons is sy volk, sy eie kudde. Letterlik sou ons die laaste woorde ook kon weergee met – sy skape wat Hy laat wei.  Dis die pragtige beeld van `n kudde skape wat ons hier aantref, `n beeld wat bekend is in die Bybel.

`n Kudde skape behoort tog aan hulle eienaar wat  vir hulle sorg en hulle lei.
So is die Here ons herder. Ons behoort aan Hom ons herder. In die lig van die hele Skrif weet ons nou hoe dit moontlik is dat ons die Here se eiendom kan wees. Hy het die prys betaal vir ons , die lewe van sy Seun aan die kruis. So het Hy ons vrygekoop uit die mag van sonde en Satan om nou aan Hom te behoort.

Vir ons, sy eie skape , laat Hy wei en so sorg Hy vir ons met wat ons nodig het in ons lewens, na liggaam en gees.  Die laaste deel van vers 5 wys vir ons kortliks hoe Hy vir ons sorg. Dit gaan oor sy goedheid, sy liefde en sy trou.  Wonderlik as ons weer vanoggend hieroor saam dink. Die Here se goedheid, sy ewige liefde en getrouheid, is vanoggend weer vir ons `n heerlike bron van vreugde en bemoediging.  Wanneer ons weet – Ons God is goed, Hy is vol liefde vir my, Hy is getrou aan sy woorde en beloftes – dan kan ons ook hierdie dag met blydskap ingaan. En laat ons blydskap in ons harte ook uitmond in gebede wat Hom daarvoor loof , dank en prys.

 


Gebed.  

Here, dit  is goed om weer vanoggend saam te kan dink en te kan leer uit u Woord. U Woord vul ons ook vanoggend weer met blydskap en nuwe moed, ook vir hierdie dag wat voor ons lê. Dankie Here dat U ons gemaak het, elkeen uniek as mens.

Ons loof  U verder met blydskap dat ons aan U kan behoort omdat ons Here Jesus die duurste prys vir ons betaal het, sy eie lewe. Ons prys U dat ons U skape kan wees en dat U in U goedheid vir ons sorg met alles wat ons nodig het.  Dankie vir U liefde en vir U getrouheid in ons lewens. Sonder dit kan en wil ons ook nie hierdie dag ingaan nie. Ons bid vir almal in ons gemeente wat swaarkry en druk ervaar weens beproewings van watter aard ookal. Wees tog by hulle en dra hulle. Gee uitkoms en hulp aan elkeen volgens U wil. Ons bid dit alles in die Naam van ons Here en Verlosser, Jesus Christus. Amen.