Categories
Inspirasie

Inspirasie vir die dag – Woensdag 27 Mei 2026

Ons oordink graag vanoggend psalm 103 in ons Woensdagboodskap. Ons kernvers is vers 2:  Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie.

Wanneer mens psalm 103 deurlees voel jy die opgewondenheid en die blydskap van die digter Dawid aan. Hy is opgewonde en bly oor die weldade van God wat hy beleef het.  En sy opgewondenheid en blydskap oor God se weldade gaan daartoe oor dat Hy God met blydskap loof.

Die weldade van die Here waaroor Dawid so opgewonde is  is van geestelike en nie-geestelike aard.  Die groot geestelike weldaad van sondevergifnis word uitgelig in die psalm en Hy loof die Here daarvoor.  Ook baie gewone dinge in sy lewe sien hy raak as weldade van God aan hom bewys.  Hy noem byvoorbeeld dat die Here sy siekte genees en vir hom krag gee soos `n arend.  Verder dat die Here sy lewe beskerm het en hom van die graf gered het. En sommer heel algemeen sê hy in vers 5 die volgende oor God se weldade met die woorde  – wat  my die goeie in oorvloed laat geniet.   Dit alles doen die Here aan hom vanuit sy liefde en sy ontferming.

Vandag is `n goeie tyd om weer diep na te dink aan die Here se weldade wat Hy al in jou lewe aan jou bewys het en steeds bewys.  Ons as mense is van nature dikwels so negatief en dink baie gou oor die dinge wat in ons lewens moeilik is of ons graag anders sou wou hê. In die proses vergeet ons dikwels om ook te dink aan al die goeie dinge wat die Here in oorvloed aan ons gee om te geniet, aan al sy weldade van geestelike en nie-geestelike aard. Die vergewing van ons sondes en so baie ander dinge.

Die klein dingetjies in ons lewens aanvaar ons dikwels as vanselfsprekend en ons sien dit nie raak as weldade van God nie. Dinge soos `n woonplek , `n werk, pensioenversorging,  gesondheid en krag, klere , kos op my tafel, kinders en kleinkinders, goeie vriende en familie wat vir ons lief is en vir ons omgee, medegelowiges in die gemeente wat in liefde na my uitreik, nog baie meer.  Dink gerus vir `n paar minute vanoggend positief aan die weldade wat God in jou lewe aan jou bewys, al die goeie dinge wat Hy steeds vir jou skenk om in oorvloed te geniet – en loof en prys Hom met vreugde daarvoor in gebed deur die werking van die Heilige Gees.

Gebed.  

Ons hemelse Vader, ons erken en bely dat ons dikwels u weldade in ons lewens nie raaksien of dit vergeet. Ons loof u egter vanoggend met blye harte vir al U weldade in ons lewens. Vir al die goeie dinge wat U vir ons gee om in oorvloed te geniet.  Ons loof en prys u vir die vergewing van ons sondes en dat ons uit genade u kinders kan wees.   Ons loof U met blydskap vir so baie gewone goeie dinge in ons lewens wat  ons elke dag kan geniet.

U weldade vul ons opnuut vanoggend met blydskap en verwondering. Daarom wil ons U Naam daarvoor met dankbaarheid loof en prys. Amen.