Categories
Nuusbrief

Nuusbrief – Sondag 31 Mei 2026

1 Van Dawid. ’n Psalm. Ek wil sing van u troue liefde en u geregtigheid, ek wil ’n lied sing tot u eer, Here. Psalm 101:1

 

Verwelkomingswoorde.

 

Dit is vir ons `n vreugde om vanoggend in ons erediens hier saam te kan wees. Mag die Here ons lei deur sy Heilige Gees sodat ons elkeen Hom waarlik sal ontmoet en met opregte harte sal dien en eer.  Mag ons dit wat ons vanoggend leer saamneem en uitleef in ons lewens elke dag. En kom ons gaan dra die Here se boodskap ook uit na ander wat Hom nie ken nie of van Hom wegbeweeg het.  Baie welkom aan almal – lidmate, kinders en besoekers.  

 

Ons erediens vandag:

Ontmoetingsdeel:

Sang: Sk 2-4:1

Votum: Ps 101:1 (in Bybel)

Groetseën

Sang: Ps 23: 1,2 (1936, p 107)

Apostoliese Geloofsbelydenis

Sang:Ps 31: 1,17.19 (1936, p 143, tweede melodie)

 

Verootmoediging- en versoeningsdeel.  

Die Here se opdragte:Eksodus 20 – tien gebooie
Versoening:Joh. 6:47

Sang:Ps 32: 1,3 (1936, p 151)

 

Woordgedeelte: 

Gebed

Sang:Ps 146: 6 (1936, p 701)

Skriflesing:Markus 15:25-39

Teksvers:Markus 15: 33,34

Prediking met tema:

Jesus se Godverlatenheid – sodat ons nooit deur God verlaat word nie.

 

Antwoordgedeelte:

Sang:  Lied 269: 1,2,3,4 (sing “ons”)

Gebed

Slotsang:Lied 519: 2,3,4
Wegstuurseën

Sang(amen): Sk 13-2

 

Tema van die preek:

Jesus se Godverlatenheid – sodat ons nooit deur God verlaat word nie.

 

Dit het saamgegaan met drie ure van duisternis daardie Vrydag toe Jesus aan die kruis gehang het. Sy Godverlatenheid, uitgedruk ook deur die skepping – duisternis. Dis die dieptepunt van lyding. Hy beleef nie meer sy Vader se nabyheid nie.   Hy gaan deur die oordeel, die hel se pyn en droefheid en angs is sy deel. So ontvang Hy die straf oor ons sondes en tref God se oordeel Hom in ons plek. En die troos van sy Godverlatenheid – ons wat in Hom glo, word nooit deur God verlaat nie, al voel dit soms vir ons so.

 

Kollektes:  Diakonale Dienswerk en Expando

Katkisasie:  Les 14

Teeskink: A3 en B3

 

Lief en leed.

 

Ons dink in liefde aan mekaar en doen voorbidding vir almal wat deur moeilike en swaar tye van beproewings gaan. Mag die Here uitkoms en hulp gee volgens sy wil. En mag julle steeds te midde van die swaarkry beleef dat die Here by julle is en julle nooit verlaat nie.

 

Baie Dankie! Applous terugvoer:

Aan al ons gemeente- lede en vriende wat altyd so gewillig is om te help en te ondersteun met funksies  soos die Applous.

Al jul liefde, vriendelikheid, donasies en hulp word opreg waardeer.

 

Die Applous was ‘n groot sukses en sonder jul ondersteuning sou dit glad nie
moontlik wees nie.

 

Oor die 3 dae van die Applous het ons 900 worsbroodjies verkoop.
Die is ongeveer dieselfde as in 2024.
Ons het in 2025 meer as 1000 verkoop.

Die groot verskil tussen die 3 jare is dat ons in 2026 ‘n beter wins gemaak het.

Die wins was net oor die R 21 200.

 

Sonder almal se harde werk, vriendelikheid en ondersteuning sou die glad nie moontlik
gewees het nie.

 

Weer eens baie dankie

 

Groete,

Eugene Eagleton

 

BASUIN  

Hierdie kwartaal het Adry vriendelik aangebied om die Basuin te maak!!  So lief van haar ♡.

Stuur dus asb artikels aan haar by epos adres: a3stolk@gmail.com, of whatsapp dit na

082-214-2593

 

Tema:  “Kyk op na die Wolke”. Dit kan Hemelvaart, die Wederkoms of ervarings met storms insluit.

 

Hopelik kry sy sommer baie artikels van die gemeente!

Groete Pauline

 

Laat ons getuies wees na buite!

 

Baiekeer voel gelowiges dat hulle nie kan getuig teenoor ander mense omdat hulle nie weet wat om te sê nie. Daarom voel baie gelowiges dat hulle eers kursusse oor evangelisering moet deurloop voordat hulle die Here se getuies kan wees. Verseker kan sulke kursusse baie help om ons nog meer toe te rus om getuies van die Here te wees. Dit egter geensins `n voorwaarde, so asof gelowiges wat nog nie bepaalde kursusse deurgegaan het nie, nog nie getuies van die Here kan wees nie.

 

Daar waar jy elke dag jou Bybel lees, rus jy jou ook toe vir jou taak om getuie van God in jou lewe te wees. Deur jou Bybel gereeld te lees groei jou kennis van God se waarhede en die evangelie van ons Here Jesus Christus. Tydens die geleenthede wat die Here vir ons gee om vir Hom te getuig het ons dikwels nie ons Bybels by ons nie.  Dan kan ons egter die waarhede van die Skrif in herinnering roep en aan ander rondom ons dit deurgee.  Deel van ons getuienis is ook om teenoor ander te vertel wat die Here in ons lewens gedoen het. Ons  sien dit dikwels in die Skrif (bv Ps 66).  Kom ons verdiep ons in die Skrif en ons bid om die kragtige werking van die Heilige Gees. Hy is dié Een wat ons toerus en aan ons vrymoedigheid, wysheid en woorde gee om waarlik getuies van die Here te kan wees.

 

Kleuterbegeleiding.

 

Elke Sondag van die skoolkwartaal, uitgesonderd langnaweke,  is daar kleuterbegeleiding tydens die erediens beskikbaar vir kinders van 4 jaar tot graad 2. Verskeie elemente van die diens word dan op hulle vlak hanteer. Ouers kan die kinders voor die diens bring na die katkisasielokaal aan die westekant van die saal.   Ouers wat belangstel kan met Elizabeth Versteeg skakel (selno. 072 189 8499)

 

Gebed.

 

O Here, maak my hart gereed om U lief te hê; berei my lippe om u lof te verkondig. Gee my `n afkeer van my moedswillige sondes, maak my bewus van alles in my wat U nie daar wil sien nie. Gee my die ywer wat nodig is om mense onvoorwaardelik lief te hê; om u Woord lief te kry. Maak my skaam oor my ondankbaarheid vir al die goeie gawes wat U gee; gee my `n groter verlange om uit u genade te leef, en om U en u wil al beter te leer verstaan. Laat die koudheid inmy hart uitroep om die warmte van u liefde. Laat die leegheid van my hart, soos `n dorre stuk grond, smag na die reën van u Gees wat alles nuut en lewend maak. Hier is my hart, hier is my pyn – ek bring dit na U, die Enigste wat dit kan genees. Here, my woorde ontbreek om enigiets meer te sê. Laat my stilte maar u lof verkondig. My onuitgesproke verlange kan deur U alleen bevredig word. – E.B Pusey

 

 

Die Heilige Gees bring die sagte glans van liefde in ons lewe. Hy sit vreugde in ons hart en tooi ons dae met blydskap. Hy skenk ons ook die vrede wat alle verstand te bowe gaan. Hy omvorm ons ongeduld en gee aan ons `n vriendelike innerlike wat uitstraal na buite. Hy skep in ons `n goedhartigheid wat met `n hulpvaardige hand uitreik na ander.  Neels Smit

__________________________________________________________________

Ons sendingshart: MALI

Sommige volgelinge van Jesus in Mali staar sulke ernstige vervolging in die gesig dat hulle glad nie in groot dele van die land kan woon nie. In hierdie gebiede teiken Islamitiese ekstremiste Christene met geweld, ontvoerings en brandstigting by kerke.

Christen-gemeenskappe in Mali ervaar eskalerende en veelvlakkige vervolging, wat baie streke feitlik onbewoonbaar vir hulle maak. Jihadistiese groepe soos Jama’at Nasr al-Islam wal-Muslimin (JNIM) en die Islamitiese Staat in die Groter Sahara (ISGS) het van die noorde na die sentrale en suidelike dele van Mali uitgebrei, en teiken Christene met geweld, ontvoerings en brandstigting by kerke.

Evangeliese pastore en aanbidders is veral kwesbaar en word dikwels daarvan beskuldig dat hulle die Westerse invloed probeer bevorder. Die bedreiging word vergroot deur die sameloop van Islamistiese militante, georganiseerde misdaad en stelselmatige korrupsie. Jihadiste benut smokkelroetes, onwettige mynbou en ondersteuningsnetwerke, wat wettelose sones skep waar Christene blootgestel en weerloos gelaat word, veral in landelike gebiede.

 

Verjaarsdae hierdie week.

 

Hartlik geluk aan die lidmate wat verjaar.

Ons wens jou ‘n geseënde en vreugdevolle nuwe lewensjaar toe

 

31 Mei, Letta O’Reily, Belydend, 082-696-4153, C1

6 Junie, Ria Botha, Belydend, 082-402-8083, C2

 

Vergaderings hierdie week.

 

Dinsdag 2 Junie: Diakens 19:00

Woensdag 3 Junie: Admin 09:00

 

Werkgeleentheid.

 

Die Bybelgenootskap van Suid Afrika het `n permanente pos beskikbaar vir Nasionale Fondsinsamelaar. Indien jy meer inligting wil hê skakel asb met die kerkkantoor.

 

Tuinwerker.

 

William doen tuinwerk op Donderdae by die kerk en sekere Maandae by ds Wicus. Hy is dringend op soek na meer werkgeleenthede. Vir meer inligting skakel ds Wicus (0834769455).

__________________________________________________________________

 

Net so seker as wat God sy kinders in die vuuroond van beproewing gooi, net so seker sal Hy saam met hulle daarin wees. – Charles H Spurgeon.  

 

Vir ons jeug.

 

8Ek het die Here altyd by my: omdat Hy by my is, sal ek nie struikel nie. Ps 16: 8

 

Katkisasie: les 14

 

Filii Dei Jeugbyeenkoms:

 

Ons volgende byeenkoms is komende Vrydag 28 Augustus.

Hou solank die datum oop en nooi jou vriende.

Onthou om te laat weet wie kom almal.

 

Tannie Caréna 083-618-7678